
FRIKKIN MAGENTA
Ek is moeg vir die frasetjie “swart en wit” in sinne soos:
Suid-Afrika behoort aan almal van ons – swart en wit!
of
Nou moet ons saamstaan – almal van ons, swart en wit!
of
Swart of wit – die Here het almal van ons lief!
Ek verstaan dat dit vir baie mense nog nodig is om inklusief te praat oor mense wat anders as hulle lyk. Ek was ook daar. Ek kan egter nie meer so praat nie, want deur daai kleure so nonchalant te noem, problematiseer 'n mens dit waarmee jy nie meer 'n probleem wil hê nie.
Op 'n manier sê jy eintlik: “Ek is soms nog moerse ongemaklik met mense wat nie soos ek lyk nie, maar ek gaan dit ter wille van 'n mooi storie oor almal van ons stilhou.”
Dis mos makliker om 'n probleem te ignoreer as om daarmee te worstel.
Dit laat my dink aan die studente op Stellenbosch wat destyds vir 'n JOOL-bemarkingspoging die muur langs die plaaslike Macdonalds kleurvol toegeverf het met 'n prentjie van kinders wat hande vashou in 'n grasveld. Bo-aan die kinders, in die potblou geverfde baksteenlug, het 'n polities korrekte slagspreuk gepryk: “Colour is not an issue”.
Nou ja. As kleur nie vir jou 'n kwessie is nie, is dit seker ook nie nodig om dit vir almal te vertel nie?