Godverdomme, witte jy

Nou die dag eindig ek by 'n goeie koshuisvriend se bachelors op.

Dit was nie 'n tradisionele bachelors nie. Niemand was dronk nie. Ons het rustig rondom 'n braaivleisvuurtjie gekuier en oor koeitjies, kalfies en kantoorpolitiek gepraat. Koshuisherinneringe is die een na die ander opgehaal. Dit was heerlik om weer ons universiteitsdae te herleef.

Toe dit tyd geraak het om die vleis te eet, het een van die ouens leiding geneem en, amper soos 'n vaderfiguur, gemaan:

Hoe lyk dit, ouens, gaan ons gou ‘n…

Hy’t nie sy sin klaargemaak nie, maar almal het geweet wat hy bedoel.

Gebetjie.

Gaan ons gou 'n gebedjie opsê.

Toe almal hande vashou, het ñ indrukwekkende gebed begin.

Vader God, dankie dat ons hier bymekaar kan wees as jong Christen mans, Here. Op die regte manier, soos dit hoort, Here. Here, bless hom waar hy binnekort in die huwelik met sy bruid tree, Here. Bless hulle uit hul sokkies uit. Bless hulle net asseblief, Here. Soos dit hoort. En bless ons. Almal van ons. U kinders.

Et cetera.

Soos die aand verloop het, het dit uitgekom dat party van hulle vanjaar se Mighty Men-konferensie in die Paarl bygewoon het. Dat hulle dit baie positief beleef het. Dat die belangrikste ding in hul lewens tans God is. Die God van Angus Buchan. Die God wat Engelse werkwoorde en naamwoorde gebruik, mildelik seën en glo vrouens hoort agter die stoof.

“Vrouens het net daai natuurlik drang om te submit onder 'n man, jy weet?”, noem een so tussendeur die gesprekke.

“‘Is so,” reken 'n ander.

Dit was moeilik om te swyg.

Toe die aand tot 'n einde kom, het ek met gemengde gevoelens gegroet. Aan die een kant was dit lekker om weer behoorlik met 'n goeie vriend te kuier. Aan die ander kant kon ek nie anders as om ietwat terneergedruk daar uit te stap nie.

Is dit al wat Afrikanermans van my ouderdom uit die lewe wil hê? Is hierdie vroom doelwitte van blessed wees en morele mooibroodjies bak al wat hulle vir hulself ten doel stel in die huidige bedeling? Is dit, as ek Tillich verkeerd mag aanhaal, hul ultimate concern?

Is 'n goeie, nie-oproerige Christen al wat 'n wit ou vandag in Suid-Afrika kan wees? Moet dit sy hoogste ambisie wees om gebless toe word?

Miskien is dit juis wat soveel Afrikanermans na Angus Buchan toe lok. Die goedige aartappelboer se aantrekkingskrag is dalk eerder dat hy 'n ongemaklike storie gerieflik vervang met 'n nuwe een. Die storie waarin Boetman nog steeds die bliksem in is: met hom het ons nou nog nie so lekker geworstel nie. Hy’s ongemaklik, so wanneer ons kan, ignoreer ons hom liefs. Dis tog veel makliker om te vergeet van regstellende aksie, van kolonialisme en rassisme en skuldgevoelens oor al die lelik wat deur die mooi van ons deurmekaar verlede verweef is.

Die goedkoop teologie van “Die Here wil jou net bless!” is 'n gemaklike ontsnappingsroete as jy nie weet wat om met die geskiedenis te maak nie. Dis baie behulpsaam as jy wit en Afrikaans is en graag wil glo dat alles darem nog oukei is.

Alles is nie okei nie.

As jy vandag so jonk en so wit soos ek is, dan weet jy onbewustelik 'n paar dinge.

Jy weet dat, sou jy 'n loopbaan in die politiek oorweeg, jy eintlik maar verdoem sal wees tot niksseggendheid, omdat die aksies van hulle wat voor jou gekom het jou ongevraagd in 'n identiteit wat jy nie soek nie gegiet het.

Jy weet dat, sou jy mik vir 'n hogere bestuurspos in 'n groot maatskappy, jou kanse op die lange duur eintlik maar skraal is, want jy’s wit en manlik en daarom onder aan die samelewing se nuwe ranglys.

Jy weet dat, al was dit nie noodwendig jou eie ouers se skuld nie, jy vir die res van jou lewe vir die sondes van jou vaders sal moet betaal.

Jy’s wit. En wit sal jy bly. Godverdomme, witte jy.

Wat is dan nou makliker om met hierdie probleme te maak as om dit te besweer met oogklappe teen die geskiedenis (as jy dit nie kan sien nie, hoef jy nie daaroor te dink nie!), jou hande in die lug te gooi en te wag vir die Here se revival-blessings wat van bo af op jou neerreën?

Ek weet dis tans betekenisvol en singewend vir baie mans, maar op die lange duur wonder ek of hierdie allesverswelgende, soetsappige godsdiens nie dalk besig is om Afrikaners polities selfs nog meer triviaal te maak nie. Hoe meer tyd jy immers daaraan spandeer om aan God te gee wat hom toekom, hoe minder tyd spandeer jy waarskynlik met die keiser.

Die norm vir Afrikanermans is beslis nie om hulself met die land se politiek te bemoei nie. Hulle aspirasies is selde om leiers te word na wie daar opgekyk kan word. Al wat baie van hulle deesdae wil doen, as ek so na my eie geslag luister, is om goeie Christen mans te wees wat net deur die Here gebless word.

Gelukkig. Geseënd. Deemoedig. En totaal en al oorbodig.

Ek meen nie mense moet ophou om hul godsdiens te beoefen nie, maar as 'n mens so krampagtig reik na die kitsantwoorde van kitsgodsdiens en dié se kitsblessings, dan moet jy dalk begin wonder hoekom jy dit doen. Om net lief te wees vir die Here sal nie – contrary to popular belief – al die geraamtes uit jou voorvaders se kas laat verdamp nie. Jy gaan hulle self daar uit moet karwei.

Oor dertig, veertig jaar gaan ons verantwoording by ons kinders moet doen oor ons aandeel in die Suid-Afrika waarin hulle gaan leef. Wil ons dan regtig vir hulle so 'n antwoord gee?:

Ag, my kind, weet jy – ons was nou regtig nie meer lus om polities betrokke te raak by die res van die land nie. Ons beurt was toe mos verby. Ons het maar ons trailers gepak en ons bybels afgestof en na 'n oom op 'n plaas gaan luister wat vir ons vertel het dat ons niks hoef te vrees nie en dat ons enigste behoefte in die lewe eintlik maar net moet wees om gebless te word sonder dat ons dit verdien.

Dis maklik om te praat oor hoe God groot dinge vir Suid-Afrika sal doen. Dis iets heeltemal anders om self daarvoor verantwoordelikheid te neem.

This entry was posted in Essays and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>