
Bloody agent
So.
Gister gryp ek 'n koejawel. 'n Eetbare koejawel. En ek tjop sy kop en sy gat af en kerf hom aan flarde en steek sy stukkies stukkie vir stukkie by my mond in. Dit was vreeslik lekker. Ek wou dadelik nog een gaan kry, maar met die laaste happie het 'n halstarrige pit besluit om in een van my tande vas te sit.
Ek wou dit eers nie glo nie. Dit was so onwerklik dat 'n pit in my tand kon vassit. Ek was kwaad vir die pit en ek het mooi gepraat met die pit. Ek kon hom nie daar uitgrawe nie en het toe maar met hom probeer onderhandel. Liewe Pit, het ek hom gesmeek. Klim asseblief by my tand uit, het ek hom gesmeek – ek hou nie van plaak nie en ek is bang ek verloor weer al my tande wanneer ek my oë toemaak. Maar Pit wou nie luister nie.
Dit het my so terneergedruk gemaak dat ek dit aanvaar en gaan slaap het. Daar het 'n halstarrige koejawelpit in my kieste geskuil en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie.
Die volgende oggend was hy steeds daar. Later die middag het ek hom met 'n stuk brood losgekou en blymoedig op die grond uitgespoeg.
Vanaand, wanneer niemand kyk nie, gaan ek nog een eet.
Fin.