Die RICA-sperdatum kruip nader. Diegene wat nog nie aan Suid-Afrikaanse selfoonnetwerke bewys het dat hulle bestaan nie (sodat dié dit weer die regering kan bewys) se selfoonnommers word môre om 00:00 gedeaktiveer. En soos dit nou maar met Suid-Afrikaners gaan, sal daar 'n groot klomp van ons wees wat eenvoudig nooit hiervan geweet het nie. (Al is hulle oor etlike maande via elke televisiestasie, radiostasie, tydskrif en koerant denkbaar ingelig.)
Vodacom alleen het gister bykans een miljoen gebruikers gerapporteer wat nog nie geRICA het nie. Die ander netwerke sal waarskynlik net sulke getalle hê, wat beteken dat 'n aansienlike aantal Suid-Afrikaners teen oormôre sonder fanfare afgesny gaan word van Farmville, hul ma’s en die maandelikse SMSe wat hulle vertel dat hulle salarisse inbetaal is. Grootskaalse paniek is ons voorland.
Dit laat natuurlik ruimte vir 'n bietjie pret, so hier’s 'n idee: begin 'n ketting-SMS en stuur die boodskap aan soveel wit mense wat jy ken dat Oehoeroe op 1 Julie 2011 in volle swang sal begin. Noem dat die regering alle kommunikasie tussen Suid-Afrikaners gaan afsny sodat die kommando’s nie met mekaar kan kommunikeer tydens hierdie allerverskriklikste oordeelstyd nie. Gooi sommer 'n paar verwysings na Dingaan en die maan wat soos bloed sal raak in die mix en eindig dit af met 'n emosionele pleidooi om die boodskap aan elke Afrikaanssprekende in menseheugenis te stuur (anders sal elke feetjie wat nog ooit bestaan het grusaam omkom).
Skaf dan 'n goeie verkyker aan, gaan sit op 'n duin in die Kalahari met 'n yskoue bier en kyk hoeveel Venters jy kan tel.
Hierdie baanbrekende idee met die komplimente van @kobuse.
