Ingrid Jonker se selfmoord is nog nooit bewys nie.
Die veronderstelde gebeurtenis is iets waaroor daar talle gedigte en emosionele vertellings neergepen is. Dis al so verromantiseer dat daar 'n klein mitologie rondom haar finale oomblikke ontstaan het.
Sy het dramaties en grasieus die donker see binnegeloop, reken mense, oorweldig deur die ondraagbare las van die menslike toestand en die aakligheid van haar eie bestaan. Die see het haar gewelddadig – soos 'n man – ingesluk. Die maan het kil toegekyk terwyl sy verstrik in seewiere en dooie ponies uitgespoel het op die strand.
Etcetera.
In realiteit het niemand haar ooit sien selfmoord pleeg nie. Sy is dood en druipnat aangetref by Drieankerbaai, maar tot vandag toe het niemand regtig enige konkrete bewyse dat sy gesterf het soos letterkundiges hulself graag so gereeld verbeel nie.
Sou sy selfmoord kon pleeg? Inderdaad. Dis 'n moontlikheid – trouens, dis seker redelik waarskynlik, gegewe die verwerping wat sy haar lewe lank ervaar het. Desnieteenstaande sou sy ook per ongeluk oor die reëlings by Drieankerbaai kon gly terwyl sy 'n balanseertoertjie probeer uitvoer het, of per ongeluk deur 'n fratsgolf verswelg geword het terwyl sy die poësie tot die uiterste geneem het en 'n gedig met toe oë op 'n rots neergepen het, of gekyk het hoe lank sy haar asem onder water kan ophou en toe 'n fatale 1.337 sekondes te lank aan haar eie speletjie deelgeneem het.
Onwaarskynlik?
Dalk.
In die afwesigheid van enige werklike bewyse (hoorsê en deduksies tel nie) is dit egter ook nie vreeslik akkuraat om haar as 'n epiese heldin te skilder wat die see binnegeloop het asof sy die James Bond-meisie wat uit die water verskyn in trurat wou naboots nie.
Oor Ingrid kan 'n mens op die meeste maar sê wat 'n mens oor God kan sê: Wovon man nicht sprechen kann, darüber muß man schweigen.
