Twee dinge het my gemotiveer om onlangs by Google+ aan te sluit. Die eerste een was die kraai-instink – iets het geblink en ek wou dit hê. Die tweede was die feit dat my Facebook-profiel tans aan ongeveer 1000 “vriende” verbind is. Dis lankal nie meer 'n manier waarop ek, soos Facebook se leuse lui, kan “connect and share with the people in [my] life” nie.
Die oormaat is natuurlik my eie toedoen. Ek is 'n skrywer en Facebook maak dit vir my moontlik om met mense wat omgee oor my skryfwerk in verbinding te tree. Dis 'n wonderlike voorreg wat skaars 'n dekade gelede nie moontlik was nie, so dis nie iets waaroor ek kla nie. Die nadeel daarvan is egter dat 1000 mense baie geraas kan maak. Google+ het 'n manier geraak om van die geraas te ontsnap.
Ek betrap myself egter dat ek nie vreeslik baie tyd aan hierdie nuwe netwerk spandeer nie. Ek teken selde aan en wonder nie regtig wat ek mis as ek dit nie doen nie. Trouens, die enigste keer wat ek dit regtig intensief gebruik het, was om 'n braai met 'n groep ou skoolvriende te organiseer. Dis privaat afgehandel in 'n draad waar niemand behalwe ons kon sien wat beplan is nie.
Dit het my om die beurt laat besef dat ek – selfs al het ek nie so baie “vriende” op Facebook gehad nie – ook nie regtig meer 'n behoefte het om vreeslik baie tyd in (op? aan? by? Wat’s die regte voorsetsel?) Facebook te spandeer nie.
Dalk is dit deel van waar ek myself tans as mens bevind, maar dit voel nie meer sinvol om 'n meta-weergawe van my lewe in intellectum te dokumenteer as ek eerder dinge in re kan doen nie. Ek mag verkeerd wees, maar ek vermoed ook ek is nie die enigste een wat so begin voel nie.
Ek vermoed die sosiale media-borrel wat die afgelope paar jaar ongekende groei gesien het, gaan een of ander tyd bars. Daar sal 'n tyd aanbreek wat die mensdom begin besef dat dit nie sin maak om honderde “vriende” te hê wat nog nooit jou stem gehoor het nie. Hulle sal ontnugterd ontdek dat al wat hulle werklik doen wanneer hulle “social” is, daarop neerkom dat hulle staties na rekenaarskerms sit en staar. Ek dink hulle sal keelvol raak daarvan om elke ondermaanse besonderheid van hul lewens te dokumenteer en eerder buitentoe gaan om op die (glad nie so spreekwoordelike) gras rond te rol.
Ek’s bereid om oor 'n paar jaar te erken dat ek verkeerd was, maar as ek myself as 'n aanduiding neem, dan is sosiale media se inploffing veel nader as wat die tegnologie-fundi’s daarbuite spekuleer. Ek meen nie dit gaan heeltemal verdwyn nie; mense het aanlyn gekommunikeer lank voor die draai van die eeu in newsgroups en bulletin boards. Ek wil self ook nie ophou om dit te gebruik nie. Wat myns insiens wel gaan gebeur, is dat die massas wat tans 'n ernome aantal tyd aan sosiale netwerke bestee, sal begin krimp.
Die mensdom sal 'n stadium bereik waar dit nie meer 'n nuutjie sal wees om alles (RIGHT HERE! RIGHT NOW!) met die wêreld te kan deel nie. Dis in elk geval nie meer baanbrekend nie – dis nou so normaal soos om in 'n vliegtuig te klim of 'n operasie te ondergaan. Die glans het getaan. Dit maak nie sin dat mense sosiale netwerke onophoudelik sal gebruik asof dit 'n nuwe speelding is nie. Al wat Facebook en Google+ aan die gang hou, is mense se bereidwilligheid om groot gedeeltes van hul beskikbare aandag daaraan af te staan. Dit sal waarskynlik in die toekoms deur ander dinge in beslag geneem word.
Ek’s nie klaar met Facebook en kie nie. Hulle dien nog 'n doel. Ek’s wel klaar daarmee om “social” te wees voor 'n rekenaarskerm. Dit was 'n lekker eksperiment, maar dis nou verby.
Dis tyd om te gaan kyk hoe lyk die gras.
Vreemd genoeg ondervind ek geen probleme daarmee om Twitter by my daaglikse roetine in te werk nie. Dis dalk omdat dit meer eksplisiet 'n netwerk van vreemdelinge is in wie se idees ek belangstel, eerder as 'n netwerk vriende oor wie se lewens ek omgee.