Met die eerste oogopslag lyk hulle gewoonlik skadeloos. So skadeloos, trouens, dat 'n mens heel gereeld oor hulle by posh partytjies kan filosofeer. “Og!” sal jy kan proklameer (met 'n sidderende pinkie wat reikhalsend hunker na die hemele): “hulle is tog so werkwoordagtig!”
Wanneer almal geboei is deur jou ongelooflike grammatikale kennis, kan jy beterweterig vorentoe leun en met 'n stralekrans om jou retinas fluister:
“Maar, oe, hulle’s tog ook so adjektief-agtig!”
Dis omtrent gewaarborg dat jou gehoor klein gilletjies van plesier sal gee. Almal sal dink jy’s ongelooflik erudiet. Die meeste sal waarskynlik hulle kinders na jou wil vernoem. Om die kroon te span, sal jy waarskynlik dramaties kan wegloop terwyl jy ingenome “and the science gets done / and you make a neat gun” neurie.
Die wêreld sal skitter.
Maar wee jou as jy besluit om daai deelwoordjies in support vector machines te prop en hulle sowel predikatiewe adjektiewe en verlede werkwoorde kan verteenwoordig in 'n lukrake woordketting uit jou kolos van 'n korpus.
Dan moet jy maar ween, want jy gaan nie wen nie. Die deelwoorde sal terstond jou korpus nasionaliseer en jou akkuraatheid sal daal en daar sal niks wees wat jy daaraan kan doen nie.
Bloody agents, daai vervlakste deelwoorde. Bloody agents met hul onhebbelike, imperialistiese agendas en hul dubieuse onvaspenbaarheid.
My hart bloei roomtertjies.
![spanish-past-participles[1]](http://gormendizer.co.za/wp-content/uploads/2011/08/spanish-past-participles1.jpg)