Oor die sinloosheid van “die mooi Afrikaanse woord”

In pogings om hul taalgebruik “suiwer” te hou, soek mense dikwels na “die mooi Afrikaanse woord” vir 'n Engelse een. Weens ooreenkomste tussen die twee tale (beide het Germaanse wortels en is relatief analities) is dit dikwels moontlik om sinvolle Afrikaanse ekwivalente vir Engelse woorde te kry, maar daar is dikwels ook kere waar “die mooi woord” geheel en al ontbreek.

Taalpuriste weier gewoonlik om hierdeur ondergekry te word. Hulle sal elke woordeboek wat hulle kan opspoor, raadpleeg en elke vriend wat hulle ken, bel. Wanneer hulle uiteindelik ontdek dat daar nie ekwivalente vir alles in Afrikaans is nie, troos hulle hulself daaraan dat daar darem 'n frase of twee in Afrikaans is wat naastenby dieselfde funksie kan verrig as die Engelse woord wat hulle in gedagte het, gebruik dit en wieg dan vir die volgende drie weke getraumatiseerd in die fetale posisie onder gietende water in die stort rond.

Die idee dat daar 'n “mooi Afrikaanse woord” vir elke begrip op aarde is, is sinloos. Om mee te begin is daar veel minder woorde in die Afrikaanse leksikon as in dié van ander tale. Afrikaans is glad nie so klein as wat mense dikwels voorgee nie (omtrent 20 – 30 miljoen mense kan dit verstaan), maar dit kom nie naby tale soos Urdu, Frans, Duits, Mandaryns en Russies (met hul honderde miljoene sprekers) nie. Relatief gesproke is daar min mense wat dit praat en daarom noodwendig minder Afrikaanse woorde wat vir nuwe fenomene gemunt word. Wat blote volume aanbetref, is dit onwaarskynlik dat Afrikaans ooit groter tale se leksikons sal verbysteek.

Selfs al was daar ewe veel woorde in Afrikaans as in 'n ander taal, sou dit nog steeds nie moontlik wees om altyd “perfekte” vertalings tussen die twee te kry nie. Dit sou immers moes beteken dat daar 'n een tot een verhouding is tussen woorde en voorwerpe of begrippe – 'n idee wat nog nooit regtig ernstig opgeneem is nie. Daar is niks inherent betekenisvol aan woorde nie – hulle is konvensies wat op unieke maniere gebruik word betekenis oor te dra in 'n oneindige reeks taalspele. (Stry? Probeer gerus vir 'n Spanjaard verduidelik jy ry ‘n ”Pajero”.)

Afrikaans tree verder ook sintakties anders as Engels op. Daar is strukturele verskille tussen die twee tale wat dit onmoontlik maak om begrippe woord vir woord te vertaal. Neem die eenvoudige Engelse sin:

[1] Peter hugs Mary.

In Afrikaans sou ons kon sê:

[2] Peter gee Mary 'n drukkie

‘n Eenvoudige parse vir [1] sou as volg kon lyk:

			S
		/	|
	        NP     VP
		|	|	\
		|	|	NP
	    Peter     hugs     Mary
Waar S = Sentence, NP = Noun Phrase en VP = Verb phrase.

Die werkwoord in bogenoemde voorbeeld word monotransitief gebruik, dit wil sê: dit neem slegs 'n direkte voorwerp (in hierdie geval “Mary”) en verbind dit aan die onderwerp (“Peter”).

Die Afrikaanse weergawe is 'n rapsie ingewikkelder:

			S
		/	|
		NP	VP
		|	|	\	\
		|	|	NP	NP
		Peter  gee     Mary  'n drukkie

Anders as in [1], kan die werkwoord in [2] nie op sy eie aandui dat Peter danig met Mary raak nie. Die werkwoord (“gee”) word hier ditransitief gebruik en neem nie slegs een nie, maar twee voorwerpe. Die direkte voorwerp is steeds “Mary”, maar ten einde Peter se danigheid teenoor haar in Afrikaans aan te dui, is “‘n drukkie” nodig as indirekte voorwerp. Die drukaksie word genominaliseer – wat 'n werkwoordstuk in Engels was, het in Afrikaans 'n naamwoordstuk geraak.

‘n Mens sou natuurlik heel gemaklik [1] se patroon saam met ander werkwoorde in Afrikaans kon gebruik. Jy sou kon skryf: “Peter omhels Mary”, of bloot “Peter druk Mary”, maar afhangende van wie jy vra, sal dit nie heeltemal dieselfde betekenis oordra nie. “Druk” beteken waarskynlik iets heeltemal anders vir 'n tienerseun as vir 'n fisikus en “omhels” bring 'n positiewe intensiteit mee wat nie noodwendig deur “hug” op sigself oorgedra word nie.

Uiteraard is daar verskeie sulke gevalle in Afrikaans, terwyl die omgekeerde natuurlik ook waar is van Engels (probeer gerus “die appels rol onderdeur die tafel” na Engels vertaal), maar wat drukkies gee aanbetref, speel Afrikaans tweede viool. Dis glad nie verbasend dat party Afrikaanssprekendes eerder van “hug” as van “drukkies gee” praat nie. Dis bondiger.

Taalpuriste sal natuurlik iemand wat “hug my!” sê, berispe en aandring op die Afrikaanse weergawe, maar dis te betwyfel of mense ooit werklik na hulle sal luister. Taal se funksie (as 'n mens van so iets kan praat) is immers nie om “suiwer” te wees nie (dit op sigself is in elk geval 'n twyfelagtige begrip) – dis om bruikbaar en verstaanbaar te wees. As 'n “suiwerder” sin moeiliker is om te formuleer en langer gaan neem om te gebruik, gaan min mense dit gebruik om mee te begin.

Daar bestaan eenvoudig nie 'n “mooi Afrikaanse woord” vir elke Engelse een op aarde nie. Om aan te dring dat Engels nooit met Afrikaans gemeng mag word nie, is in wese maar om aan te dring dat 'n lomp oplossing telkens voorkeur moet geniet bo 'n eenvoudiger, elegante een.

And that’s just stupid.

This entry was posted in Essays, Taal and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>