Ek hou soms daarvan om na myself as ’n recovering letterkundige te verwys.
Op universiteit het ek onder andere taal– en letterkundeklasse bygewoon. Die taalkunde was stimulerend en soms ingewikkeld; die letterkunde was stimulerend en het meestal voorgegee om ingewikkeld te wees.
Dit was in letterkundeklasse waar ek erns moes maak met verskeie letterkundige “teorieë”. Ek het skynbaar ingewikkelde begrippe soos “fabula en syuzhet”, “die karnevaleske” en “die Ander” leer gebruik, lang essays geskryf, alles leer oornominaliseer en die beoefening van argumenta ad populum onbewustelik tot ’n kuns vervolmaak.
Staaf altyd jou beweringe, is ek deur dosente geleer (op sigself ’n goeie beginsel), maar in dieselfde asem daarop gewys hoe om dit “reg” te doen: haal iemand anders se idees aan, plak ’n datum daarby en siedaar!
Die geldigheid van aanhalings is meestal beoordeel aan die hand van aangehaaldes se gewildheid in geesteswetenskaplike kringe. Het ’n mens name soos Freud, Jung of Lacan aangehaal, was jou kop deur. Denkskole was ewe bevredigend: ’n idee was heel besprekenswaardig as die Russiese Formaliste of die Neo Critics dit opgetower het.
Die werklike groot name was kanoniek genoeg om sommer op te tree as “paradigmas” waaruit tekste gelees is, wat gelei het na essaytitels soos: “Derridiaanse perspektiewe op die patriargie in variasies van die gedig ’Wie syn u moeder’ deur M.A. Meesmuil”.
Eerste prys sou eger wees om iemand se idees tot ’n “teorie” te verhef, dalk met ’n titel soos: “Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman”.
My opstelle was dus lank, hoogdrawend en spekulatief. Hoe meer gewilde name en groot woorde daarin was, hoe beter het ek gevaar. ’n Onvoldoende bronnelys of ’n opstel wat nie die minimum aantal bladsye beslaan het nie was iets waaroor ’n dosent jou trouens sou aanspreek. (En wee jou as jou sitate in die verkeerde formaat was. ’n Dubbelpunt of ’n komma op die verkeerde plek kon fataal wees vir jou uiteindelike punt.)
Kortom: ek is vertel dat ek krities moet dink, maar in werklikheid geleer dat ’n standpunt korrek is indien dit gewild is.
Hierdie benadering is wydverspreid in die geesteswetenskappe. (As jy die konstitusie daarvoor het, gaan krap byvoorbeeld ’n bietjie op LitNet Akademies rond.) Daar is seker baie redes wat ’n mens hiervoor kan aanvoer, maar Chomsky stel dit vir my die beste:
We’re just like the physicists. They talk incomprehensibly, we can talk incomprehensibly. They have big words, we’ll have big words. They draw far reaching conclusions, we’ll draw far reaching conclusions. We’re just as prestigious as they are.
Ter illustrasie van hierdie onverstaanbaarheid, hier is die opsomming van ’n artikel getiteld: “Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se ’Cooler as ekke’”, met akademiaanse frases in vetdruk:
As deel van die onlangse neiging om niekanoniese repertoria in musikologiese studies in te sluit, fokus hierdie artikel op die Afrikaanse rapper Jack Parow se liedjie “Cooler as ekke” (2010). My ontleding berus op die rekonstruktiewe daarstelling van ’n spekulatiewe konteks waardeur die liedjie as ’n bepaalde rap-identiteit benader kan word. Met ander woorde, ek beoog om die liedjie (liriek sowel as musiek) te lees vanuit die konstruksie van ’n bepaalde geïmpliseerde sosiokulturele konteks waarbinne intrinsieke en ekstrinsieke teksbetekenisse as kontekstueel verbonde gesien word. Vanuit hierdie metodologiese perspektief, wat op Krims (2000) se rap-teorie steun, word dit duidelik dat “Cooler as ekke” ’n weergawe van Afrikaner-identiteit konstrueer wat vashou aan oorbekende, alledaagse simbole van die “zef” Afrikaanse lewe. Ofskoon Parow se “opponent” in die liedjie nie ’n oorheersende etniese groep verteenwoordig nie, word daar tog ’n tipe kulturele weerstand in die liedjie gesuggereer. Dit is egter veral die banaliteit van Parow se straatwysheid wat die luisteraar in ideologies gerieflike maniere van ervaring kan vasvang, omdat die liedjie skynbaar nie ernstig (of krities) opgeneem wíl word nie.
’n Ideologiekritiese interpretasie van die resepsie van die liedjie aan die hand van Visagie (1996) en Thompson (1990) bring aan die lig dat sommige Afrikaanse luisteraars “Cooler as ekke” binne die huidige sosiopolitieke landskonteks enersyds as ’n stelling van “die bekende” en van “die eie” mag verstaan, of andersyds as kritiek op uitgediende, pretensieuse weergawes van Afrikanerskap. In albei gevalle wek die liedjie by ander Afrikaanse luisteraars sterk weerstand. Dit is op hierdie vlak dat “Cooler as ekke” ondertone van ’n minder tegemoetkomende weergawe van Afrikaner-identiteit begin inhou waarby ’n veronderstelde gedeelde afkoms deur ’n eensydige (hipernormatiewe) tekening van Afrikanerskap weerspreek word.
Slegs ’n masochis kan so ’n stortvloed woorde waardeer. Dit is ’n hutspot van ingewikkeldheid en oortolligheid wat met die eerste oogopslag dalk mag lyk na diepsinnigheid, maar by nadere ondersoek ver te kort skiet wat sin betref.
Hier is ’n eenvoudiger weergawe:
As deel van die huidige neiging om nie-kanonieke werke te bestudeer, fokus hierdie artikel op Jack Parow se “Cooler as Ekke” (2010). My ontleding berus op die skep van ’n konteks waarin ek die liedjie benader as rap-identiteit. Ek gaan die liedjie dus interpreteer deur aan te neem dat tekste se betekenisse gebind is aan hul kontekste. Vanuit hierdie perspektief, wat op Krims (2000) se rap-teorie steun, verteenwoordig “Cooler as ekke” ’n Afrikaner-identiteit vol gewone simbole van die “zef” Afrikaanse lewe. Hoewel kulturele weerstand tog gesuggereer word, verteenwoordig Parow se “opponent” nie ’n oorheersende etniese groep nie. Veral Parow se banale straatwysheid word ideologies gerieflik ervaar deur luisteraars, omdat die liedjie skynbaar nie ernstig opgeneem wil word nie.
’n Interpretasie van die ontvangs van die liedjie aan die hand van Visagie (1996) en Thompson (1990) wys dat sommige hedendaagse Afrikaanse luisteraars “Cooler as ekke” as sowel ’n stelling van “die bekende” en “die eie” as kritiek op uitgediende weergawes van Afrikanerskap mag verstaan. In albei gevalle wek die liedjie weerstand by ander Afrikaanse luisteraars. “Cooler as ekke” verteenwoordig dus ’n minder tegemoetkomende weergawe van Afrikaner-identiteit waar ’n gedeelde afkoms deur ’n eensydige (streng) idee van Afrikanerskap weerspreek word.
Bogenoemde is hopelik meer verstaanbaar, maar vertoon steeds die logge trekke van akademiaans. Dis vol gonswoorde en sitate wat ’n skyn van wetenskaplikheid aan die stuk verskaf. Verwyder ’n mens dit, bly die volgende oor:
Hierdie artikel gaan oor Jack Parow se liedjie “Cooler as Ekke”. Ek beskou hierdie liedjie as rap-identiteit, omdat ek wil. Ek gaan die liedjie dus interpreteer.
“Cooler as ekke” verteenwoordig die “zef” Afrikaanse lewe. Dit is waar, want Krims het iets in 2000 geskryf. Jack Parow se vyand verteenwoordig nie ’n etniese groep nie, al lyk dit so. Hy gebruik lelike woorde en neem homself nie ernstig op nie. Mense geniet dit daarom om na hom te luister.
Ek het ontdek dat luisteraars verskillend op die liedjie se woorde reageer. Party hou van die liedjie se woorde en dink dit is kritiek op ’n soort Afrikaner. Dit is waar, want Visagie en Thompson het dinge in 1996 en 1990 geskryf. Mense wat die liedjie se woorde ervaar as kritiek op hulself, hou nie daarvan nie. “Cooler as ekke” weerspreek dus ’n gedeelde afkoms.
Nie juis die mees koherente gedagtes ter wêreld nie, is dit?
Dis ’n algemene verskynsel in die geesteswetenskappe (deesdae die “sosiale wetenskappe”): ’n stortvloed woorde word gebruik om ’n skans van onverstaanbaarheid rondom eenvoudige idees te bou. Dié word dan as portuurgeëvalueerde, wetenskaplike navorsing voorgehou, terwyl dit liewer na ’n voortgesette Sokal Affair lyk. (Dis boonop winsgewend: LitNet betaal R10 000 vir die neerpen van ’n verborge stel truïsmes.)
Ek kan nie onthou wanneer dit uiteindelik tot my deurgeskemer het dat perdedrolle nie vye is nie. Ek is bly dit het. Ek is ietwat verleë dat ek vir ’n paar jaar soveel erns kon maak met dinge wat soms so verdraaid was, maar dis seker maar hoe ’n mens leer.
Gelukkig het ek myself weer vir die afgelope paar jaar begin besig met die dinge in die lewe wat saak maak.
HLDM, enigiemand?
Johan, ek hou werklik van jou totale eerlikheid en openhartigheid wat deurskyn tussen die reels van alles wat ek tot dusver van jou geskrifte gelees het. Soos spyt, (wat ’n goeie ding is) maar eers later kom, kom sit erkentlikheid van jou eerlikheid te laat en aan die einde. Dit kom soos ’n klimaks na ’n te lang reeks woordelikse masturbasies. (dis lekker om langdradig te wees, maar dit werk net besonder goed by masturbasie — woord masturbasie!) By die universiteit van die lewe ( reklame agentskappe) moes ek leer hoe om woorde se go (kappie o) te werk en dat kort en Kragtig is kranig. Jou rubriek oor teoloe (deelteken e) se drogdenke oor plaasarbeid Sokal jou hier, sokal jou daar het my laat dink aan een van my eie geskrifte. Sien Wingerdjapie http://www.joernaal-talent-taal.com.
Ek kry nie “sokal” in die woordelyste wat ek het nie. Wat beteken “sokal”.
Vriendelike groete, Henk Seymore Kunstenaar/skrywer 15 jan 2013
Reply