Die keer toe ek liters sweet in my kopkussing gedeponeer het

Dis 05:17. Ek en Die Skat­lam sit op die dak van die Princess Salme Inn.

Onder my in die donkerte kraai ’n hoen­der. In die duis­ter­nis naby die hawe krys seemeeue. Twee mans in ver­skil­lende geboue is besig om Allah se lof oor luid­sprek­ers te besing.

Ons het wakker ger­aak omdat die krag afge­gaan het (die hele eiland s’n sny so dan en wan uit) en die waaiertjie wat getrou sy koelte met my, haar en ons reisgenoot gedeel het, ophou waai het. Die hitte onder die muskiet­nette het ondraaglik ger­aak en ons het koelte in die kroeg op die boon­ste verdieping kom soek.

Die krag het intussen aange­gaan. Ek drink ’n Sprite. Hier is gratis inter­net­toe­gang en ’n reke­naar, so ek kan net­sowel blog. Ek doen dit dees­dae so min.

Ek het ’n sterk behoefte om die lof­sangers te vra: “…en hoe weet julle al hierdie dinge waa­roor julle so self­versek­erd sing?”, maar ver­moed ek sal gemoer word.

Ten min­ste is hulle vrien­de­lik, en raak hulle nie so dronk soos die Chris­tene tuis nie. Dis nou met die uit­son­der­ing van Mr Cheapa Cheapa — ’n toergids vir wie ons ’n paar dae gelede ’n bot­tel Kil­i­man­jaro Lager gekoop het.

Me Mus­lim!” het hy ver­tel ter­wyl hy daaraan geteug het. “Mus­lims drink!”

n Koei het langs ons gewei.

Mense wat hoor ons kom van Suid-Afrika af, sê gewoon­lik opge­wonde een van twee dinge:

Aaaah…Waka waka!”

of…

Aaaah…Mandela!”

Daarna probeer hulle iets aan jou verk­wansel. Ek neem hulle nie kwa­lik nie (ek het immers miljoene Tan­za­niese shillings in my bankreken­ing), maar ek wens tog hulle wil iets sin­vollers as laer­graad CD’s (Best of Africa Party Music!) en helderkleurige lappe uit Sji­nese tek­stielfab­rieke in my neus druk.

Pleks hulle RAM, water­digte beur­sies en afs­lag op rondtes gholf aanbied.

Dis ’n paar uur later en ’n hewige tropiese reën­bui het oor Stone Town uit­ge­sak. Ek het ’n paar liters ekstra sweet in my kop­kuss­ing gaan deponeer, weer ont­waak en ont­byt kom eet.

Die reke­naar het net­nou besluit elke liewe toets op die sleutel­bord is nie meer wat daarop staan nie, so ek het maar gesave en uitgeteken.

Ja. Uit­geteken. Aflui se moer. (En klik. Klik se moer. Nor­male mense kliek.)

Die argitek­tuur in hierdie dor­pie lyk soos wat Italië sou lyk indien Ara­biere dit ontwerp het. Dis nogal ’n belewe­nis om in die straatjies rond te loop, hoewel ’n mens in jou agterkop weet dat die meeste daar­van ’n gerieflike sim­u­lacrum geskep vir toeriste is.

Nes nie­mand wat in Kaap­stad woon ooit ern­stig kan doen wat toeriste in Kaap­stad doen nie, so ver­moed ek alles wat ons gewys word en beleef, nooit vir die meeste mense op die eiland beskore is nie. Dinge soos om hier te eet.

Dit maak ’n mens bewus van magstruk­ture, ekonomiese klas­sev­er­skille en bevoorregting.

Dan weer: ons betaal deur wis­se­lende hoogtes van ons liggame vir alles wat ons hier doen. Die beter benam­ing vir ons is dalk bloot suckers.

Dis eint­lik mos maar wat toeriste is.

Die Skat­lam sê ek is sinies.

Ten min­ste is dit lekker.

Kwa­heri rafiki. I naenda kupumzika.

One Comment