Hoekom Afrikaans nie ’n Afrikataal is nie

Africa

Elke dan en wan maak iemand in Suid-Afrika ’n geluid oor Afrika-tale wat klink asof dit Afrikaans uit­sluit. Afrikaanssprek­endes se reak­sie hierop is gewoon­lik om ’n kollek­tiewe her­nia te ontwikkel en veront­waardig te skree: “Afrikaans is ook een!”

Die bek­end­ste van hierdie gelu­ide is waarskyn­lik Blade Nzi­mande se voors­tel van 2011 dat hoër onder­wysin­stellings die aan­leer van ’n Afrikataal vir stu­dente verplig­tend moet maak. Meer onlangs het ’n sub­komi­tee by die ANC se nasion­ale kon­fer­en­sie aange­dui dat hulle die aan­leer van ten min­ste een Afrikataal op skoolvlak wil verplig.

Om seker te maak almal weet wat hulle bedoel, het Joe Phahla (voor­sit­ter) die vol­gende gesê:

Once it is pol­icy, even a school in Waterk­loof would have to teach a lan­guage such as Tswana, for example.

Die duide­like bood­skap hierin is dat Afrikaans en Engels nie Afrikatale is nie.

Krit­ici van hierdie stand­punt se repliek is dat Afrikaans op eie bodem ontwikkel het en daarom uit­er­aard ’n Afrikataal is. Dit is natu­ur­lik triv­i­aal kor­rek, maar dit beteken dat elkeen van die ander tale wat tans op die kon­tin­tent gepraat word ook as Afrikatale geklas­si­fiseer moet word.

So ’n defin­isie is lomp, omdat dit heel­temal te vaag is om enigi­ets bruik­baars oor die onder­w­erp te sê. Dit is so betekenisvol soos om die reën­woude in die Kongo en die fyn­bos in die Kaap oor die­selfde kam te skeer en hulle bloot “Afrika­plante” te noem, of “’n bloue” te antwo­ord op die vraag: “wat­ter soort kar het jy?”

Tale kan veel sin­voller geklas­si­fiseer word aan die hand van hul onder­skeie taalkundige eien­skappe. Elke taal klink en tree uniek op, maar kan weens ooreenkom­ste met ander tale saamge­groepeer word in ’n bepaalde taal­fam­i­lie. Afrika, ’n kolos­sale land­massa wat meer as ’n mil­jard mense huisves, is  nie die tuiste van nie slegs een nie, maar ses unieke taalfamilies:

  • Afro-Asiaties
  • Nilo-Sahara
  • Niger–Kongo
  • Khoi-San
  • Aus­trone­si­aans *
  • Indo-Europees *

Van hierdie fam­i­lies is ’n min­i­mum van vier en ’n mak­si­mum van ses “inheems”, afhangende van hoe jy tel. Aus­trone­si­aans (in die vorm van Mal­gassies) kom op Mada­gaskar voor, maar hoort streng gesproke tot die eilande van die Stille Oseaan. Indo-Europese tale behels oud-koloniale tale soos Engels, Frans, Duits en Por­tugees (wat uit­er­aard uitheems is), maar sluit ook Afrikaans in — die enig­ste Indo-Europese taal wat in Afrika self ontstaan het.

Die tale in hierdie fam­i­lies ver­skil drasties van mekaar wat struk­tuur, klank en woordeskat betref. Sien byvoor­beeld die vol­gende ver­tal­ings vir “totsiens”:

“tot­siens” Taal Fam­i­lie
Maʿa s-salāma Ara­bies Afro-Asiaties
Oriti Luo Nilo-Sahara
Sala kakuhle Xhosa Niger-Kongo
ǃGãise ǃgu re Nama Khoi-San
Veloma Mal­gassies Aus­trone­si­aans
Good­bye Engels Indo-Europees

Verge­lyk dit nou met die vol­gende Ger­maanse ver­tal­ings vir “tong”:

“tong” Taal Fam­i­lie
tong Ned­er­lands Ger­maans (Indo-Europees)
tongue Engels Ger­maans (Indo-Europees)
tunga Sweeds Ger­maans (Indo-Europees)
tunge Noor­weegs Ger­maans (Indo-Europees)
zunge Duits Ger­maans (Indo-Europees)

Laasge­noemde woorde klink en lyk na mekaar, omdat hulle tot die­selfde taal­fam­i­lie behoort en dus ’n gemeen­skap­like voor­saat het. Taalkundi­ges noem hierdie voor­sate “oer­tale”. Die ver­skil­lende tale wat uit ’n oer­taal ontwikkel, heet “dogter­tale” en deel vari­asies van die oer­taal se karak­tereien­skappe wat oor tyd ontwikkel het.

Waar tale binne taal­fam­i­lies ooreenkom­ste met mekaar toon, is die teenoorgestelde waar vir tale buite taal­fam­i­lies. Ter illus­trasie, verge­lyk die Ger­maanse woorde vir “tong” met woorde vir die lig­gaams­deel uit die Bantoe-tak van die Niger-Kongo-taalfamilie:

“tong” Taal Fam­i­lie
ulimi Swahili Ban­toe (Niger-Kongo)
ulimi Zulu Ban­toe (Niger-Kongo)
ulwimi Xhosa Ban­toe (Niger-Kongo)
rimi Shona Ban­toe (Niger-Kongo)
lulimi Mwani Ban­toe (Niger-Kongo)

Dit sal doo­d­een­voudig oneer­lik (of ten min­ste uiters lui) wees om “ulimi” en “tongue” in die­selfde kat­e­gorie te plaas. Tog is dit pre­sies wat mense doen wan­neer hulle Afrikaans (of enige van die ander plaaslike tale) ’n Afrikataal noem.

Taalkundige klas­si­fis­er­ing ter­syde weet almal natu­ur­lik pre­sies wat die ANC met “African lan­guages” bedoel. Weens die ver­staan­bare stigma wat tans aan die woord “Ban­toe” kleef, word “Afrikatale” in elk geval dik­wels as ’n sinon­iem vir “Ban­toetale” gebruik.

Wan­neer Nzi­mande en kie die begrip gebruik, meen hulle eint­lik maar net: “tale uit die Suide­like Bantoe-tak van die Niger-Kongo taal­fam­i­lie wat binne Suid-Afrika se grense as ampte­like land­stale erken word”.

Afrikaans hoort een­voudig nie tot hierdie groeper­ing nie.

Iemand wat aan­voer dat Afrikaans ’n Afrika-taal is, kan der­halwe slegs een van twee dinge bedoel:

  1. Afrikaans is van Afrika
  2. Afrikaans hoort tot die Niger-Kongo taal­fam­i­lie, is agglu­ti­natief, het ’n uit­ge­breide klass­telsel vir naam­wo­orde en ’n lek­sikon vol woorde wat groot­liks op klink­ers eindig

Die eerste van hierdie stellings is ’n poli­tieke uit­spraak, slegs triv­i­aal kor­rek en dra nie veel tot enige gesprek by nie. Die tweede is demon­streer­baar vals.

Om Afrikaans ’n Afrikataal te noem is dus ten beste niksseggend en ten sleg­ste foutief.

3 Comments

  • Dagsê!

    Mens, is DIT nou ’n leer­same, inter­es­sante inskrywing!

    Ding wil maar glo daar sal genoeg kundi­ges wees wie uit ’n taalkundige per­spek­tief sal kan bydra om hierdie inskry­wing te onder­s­teun of aan te val en sodoende opbouende, akademiese debat te ont­lok. Ding is glad nie een van daai nie.
    Ding sit en bekyk hierdie bedryf net so en Ding won­der by Ding­self hoeveel van die gelu­ide wat oor Afrikaans as nie-Afrika-taal gemaak word, hierdie selfde ken­nis as fon­dasie dra? As dit nou wel so sou wees, sou dit, op grond van wat ’n mens hierbo sien, ’n haas onaan­veg­bare stand­punt wees.

    Dan won­der Ding verder: wie besig tale?
    Voorts won­der Ding: waarom word tale gebe­sig — waar­voor word dit gebruik?

    Ding wil ver­sigtig probeer trap in ’n poten­siële myn­veld van onsta­biele emosionele-landmyne:-
    Die akademiese taal-oorsprong-ontledings– en –verge­lyk­ings­be­nader­ing is maar slegs ’n sub-perspektief in die taalde­bat. In die hele taal-debakel word die taal self slegs maar as plekhouer vir soveel meer aangewend en is daar moont­lik ver­skuilde agenda waar op aan­sien­lik meer as net die taal self gemik word — die kul­tuur, die sosiale bestel en die groep van die samelew­ing wie hulle met die spe­si­fieke taal vereensel­wig.
    Indien dit wel so is, word die ner­ing geskep dat die uit– of insluit; die er– of misken­ning van die taal as ver­teen­wo­ordi­ger van ’n spe­si­fieke groter groep, nood­wendig poten­sieel gelykges­tel word aan die uit– of insluit, er– of misken­ning van die groep mense wie met die spe­si­fieke taal iden­ti­fiseer. ’n Taal kan tog nie onbeperk onafhank­lik staan van die mense wie dit gebruik nie.

    SO, in Ding se stoep­taal: Oud­ing reken die hele taalde­bakel spruit eint­lik glad nie voort uit ’n akademiese benader­ing nie. En alhoewel dit eint­lik his­to­ries, akademies en feit­e­lik gefun­deer behoort te wees om objek­tief kor­rek en aan­vaar­baar te wees, is die hele debat moont­lik ’n rookskerm vir iets hele­mal anders en word dit fyn gemanupileer as ’n dode­like poli­tieke wapen…

    Ons behoort eint­lik een­voudig vir mekaar te sê: ons het soveel meer as enige ander land met al ons baie tale; hoekom dit nie opti­maal benut vir per­soon­like ontwik­kel­ing nie — leer nog ’n taal aan!? Boonop: watse lekkerte kan daar nou wees om soos ’n doof­s­tom idioot in ’n groep te wees waar man­man uit­mekaar beskinder of gekom­pli­menteer kan word son­der dat man­man ’n benul het van wat die klanke beteken wat deur die gesprekvo­erders gemaak word?

    Ten slotte: Ding is hele­mal ten gun­ste daar­van dat Suid-Afrika se jeug taalkundig beter toegerus moet word. Of dit nou die pigment-gestremdes is en of dit nou die pigment-bevoordeeldes is, maak nie saak nie. 1 of 2 uit 11 of 13 lyk darem net baie slegter as 3 of 6 uit 11 of 13, nie waar nie?

    Kyk my vas en groet my los!
    D

    Reply

  • Gaan woon in ’n Duitssprek­ende land vir ’n rukkie, as Afrikaanssprek­ende, en kom agter hoe dit beslis ’n Europese taal is. Ek noem dit som­mer Ger­maans. Wikipedia stem ook saam: “Afrikaans is a West Ger­manic lan­guage”. “Afrikaans is ’n Ned­er­frankiese taal wat ’n lid is van die Ger­maanse taalgroep”…

    Reply

  • […] rea­son they now dance and sing at party con­fer­ences, speak African lan­guages (and I don’t mean Afrikaans, which isn’t an African lan­guage), and try to reverse engi­neer the legacy of the social­ist, col­lec­tivist Steve Biko in an attempt to […]