Elke dan en wan maak iemand in Suid-Afrika ’n geluid oor Afrika-tale wat klink asof dit Afrikaans uitsluit. Afrikaanssprekendes se reaksie hierop is gewoonlik om ’n kollektiewe hernia te ontwikkel en verontwaardig te skree: “Afrikaans is ook een!”
Die bekendste van hierdie geluide is waarskynlik Blade Nzimande se voorstel van 2011 dat hoër onderwysinstellings die aanleer van ’n Afrikataal vir studente verpligtend moet maak. Meer onlangs het ’n subkomitee by die ANC se nasionale konferensie aangedui dat hulle die aanleer van ten minste een Afrikataal op skoolvlak wil verplig.
Om seker te maak almal weet wat hulle bedoel, het Joe Phahla (voorsitter) die volgende gesê:
Once it is policy, even a school in Waterkloof would have to teach a language such as Tswana, for example.
Die duidelike boodskap hierin is dat Afrikaans en Engels nie Afrikatale is nie.
Kritici van hierdie standpunt se repliek is dat Afrikaans op eie bodem ontwikkel het en daarom uiteraard ’n Afrikataal is. Dit is natuurlik triviaal korrek, maar dit beteken dat elkeen van die ander tale wat tans op die kontintent gepraat word ook as Afrikatale geklassifiseer moet word.
So ’n definisie is lomp, omdat dit heeltemal te vaag is om enigiets bruikbaars oor die onderwerp te sê. Dit is so betekenisvol soos om die reënwoude in die Kongo en die fynbos in die Kaap oor dieselfde kam te skeer en hulle bloot “Afrikaplante” te noem, of “’n bloue” te antwoord op die vraag: “watter soort kar het jy?”
Tale kan veel sinvoller geklassifiseer word aan die hand van hul onderskeie taalkundige eienskappe. Elke taal klink en tree uniek op, maar kan weens ooreenkomste met ander tale saamgegroepeer word in ’n bepaalde taalfamilie. Afrika, ’n kolossale landmassa wat meer as ’n miljard mense huisves, is nie die tuiste van nie slegs een nie, maar ses unieke taalfamilies:
- Afro-Asiaties
- Nilo-Sahara
- Niger–Kongo
- Khoi-San
- Austronesiaans *
- Indo-Europees *
Van hierdie families is ’n minimum van vier en ’n maksimum van ses “inheems”, afhangende van hoe jy tel. Austronesiaans (in die vorm van Malgassies) kom op Madagaskar voor, maar hoort streng gesproke tot die eilande van die Stille Oseaan. Indo-Europese tale behels oud-koloniale tale soos Engels, Frans, Duits en Portugees (wat uiteraard uitheems is), maar sluit ook Afrikaans in — die enigste Indo-Europese taal wat in Afrika self ontstaan het.
Die tale in hierdie families verskil drasties van mekaar wat struktuur, klank en woordeskat betref. Sien byvoorbeeld die volgende vertalings vir “totsiens”:
| “totsiens” | Taal | Familie |
| Maʿa s-salāma | Arabies | Afro-Asiaties |
| Oriti | Luo | Nilo-Sahara |
| Sala kakuhle | Xhosa | Niger-Kongo |
| ǃGãise ǃgu re | Nama | Khoi-San |
| Veloma | Malgassies | Austronesiaans |
| Goodbye | Engels | Indo-Europees |
Vergelyk dit nou met die volgende Germaanse vertalings vir “tong”:
| “tong” | Taal | Familie |
| tong | Nederlands | Germaans (Indo-Europees) |
| tongue | Engels | Germaans (Indo-Europees) |
| tunga | Sweeds | Germaans (Indo-Europees) |
| tunge | Noorweegs | Germaans (Indo-Europees) |
| zunge | Duits | Germaans (Indo-Europees) |
Laasgenoemde woorde klink en lyk na mekaar, omdat hulle tot dieselfde taalfamilie behoort en dus ’n gemeenskaplike voorsaat het. Taalkundiges noem hierdie voorsate “oertale”. Die verskillende tale wat uit ’n oertaal ontwikkel, heet “dogtertale” en deel variasies van die oertaal se karaktereienskappe wat oor tyd ontwikkel het.
Waar tale binne taalfamilies ooreenkomste met mekaar toon, is die teenoorgestelde waar vir tale buite taalfamilies. Ter illustrasie, vergelyk die Germaanse woorde vir “tong” met woorde vir die liggaamsdeel uit die Bantoe-tak van die Niger-Kongo-taalfamilie:
| “tong” | Taal | Familie |
| ulimi | Swahili | Bantoe (Niger-Kongo) |
| ulimi | Zulu | Bantoe (Niger-Kongo) |
| ulwimi | Xhosa | Bantoe (Niger-Kongo) |
| rimi | Shona | Bantoe (Niger-Kongo) |
| lulimi | Mwani | Bantoe (Niger-Kongo) |
Dit sal doodeenvoudig oneerlik (of ten minste uiters lui) wees om “ulimi” en “tongue” in dieselfde kategorie te plaas. Tog is dit presies wat mense doen wanneer hulle Afrikaans (of enige van die ander plaaslike tale) ’n Afrikataal noem.
Taalkundige klassifisering tersyde weet almal natuurlik presies wat die ANC met “African languages” bedoel. Weens die verstaanbare stigma wat tans aan die woord “Bantoe” kleef, word “Afrikatale” in elk geval dikwels as ’n sinoniem vir “Bantoetale” gebruik.
Wanneer Nzimande en kie die begrip gebruik, meen hulle eintlik maar net: “tale uit die Suidelike Bantoe-tak van die Niger-Kongo taalfamilie wat binne Suid-Afrika se grense as amptelike landstale erken word”.
Afrikaans hoort eenvoudig nie tot hierdie groepering nie.
Iemand wat aanvoer dat Afrikaans ’n Afrika-taal is, kan derhalwe slegs een van twee dinge bedoel:
- Afrikaans is van Afrika
- Afrikaans hoort tot die Niger-Kongo taalfamilie, is agglutinatief, het ’n uitgebreide klasstelsel vir naamwoorde en ’n leksikon vol woorde wat grootliks op klinkers eindig
Die eerste van hierdie stellings is ’n politieke uitspraak, slegs triviaal korrek en dra nie veel tot enige gesprek by nie. Die tweede is demonstreerbaar vals.
Om Afrikaans ’n Afrikataal te noem is dus ten beste niksseggend en ten slegste foutief.

Dagsê!
Mens, is DIT nou ’n leersame, interessante inskrywing!
Ding wil maar glo daar sal genoeg kundiges wees wie uit ’n taalkundige perspektief sal kan bydra om hierdie inskrywing te ondersteun of aan te val en sodoende opbouende, akademiese debat te ontlok. Ding is glad nie een van daai nie.
Ding sit en bekyk hierdie bedryf net so en Ding wonder by Dingself hoeveel van die geluide wat oor Afrikaans as nie-Afrika-taal gemaak word, hierdie selfde kennis as fondasie dra? As dit nou wel so sou wees, sou dit, op grond van wat ’n mens hierbo sien, ’n haas onaanvegbare standpunt wees.
Dan wonder Ding verder: wie besig tale?
Voorts wonder Ding: waarom word tale gebesig — waarvoor word dit gebruik?
Ding wil versigtig probeer trap in ’n potensiële mynveld van onstabiele emosionele-landmyne:-
Die akademiese taal-oorsprong-ontledings– en –vergelykingsbenadering is maar slegs ’n sub-perspektief in die taaldebat. In die hele taal-debakel word die taal self slegs maar as plekhouer vir soveel meer aangewend en is daar moontlik verskuilde agenda waar op aansienlik meer as net die taal self gemik word — die kultuur, die sosiale bestel en die groep van die samelewing wie hulle met die spesifieke taal vereenselwig.
Indien dit wel so is, word die nering geskep dat die uit– of insluit; die er– of miskenning van die taal as verteenwoordiger van ’n spesifieke groter groep, noodwendig potensieel gelykgestel word aan die uit– of insluit, er– of miskenning van die groep mense wie met die spesifieke taal identifiseer. ’n Taal kan tog nie onbeperk onafhanklik staan van die mense wie dit gebruik nie.
SO, in Ding se stoeptaal: Ouding reken die hele taaldebakel spruit eintlik glad nie voort uit ’n akademiese benadering nie. En alhoewel dit eintlik histories, akademies en feitelik gefundeer behoort te wees om objektief korrek en aanvaarbaar te wees, is die hele debat moontlik ’n rookskerm vir iets helemal anders en word dit fyn gemanupileer as ’n dodelike politieke wapen…
Ons behoort eintlik eenvoudig vir mekaar te sê: ons het soveel meer as enige ander land met al ons baie tale; hoekom dit nie optimaal benut vir persoonlike ontwikkeling nie — leer nog ’n taal aan!? Boonop: watse lekkerte kan daar nou wees om soos ’n doofstom idioot in ’n groep te wees waar manman uitmekaar beskinder of gekomplimenteer kan word sonder dat manman ’n benul het van wat die klanke beteken wat deur die gesprekvoerders gemaak word?
Ten slotte: Ding is helemal ten gunste daarvan dat Suid-Afrika se jeug taalkundig beter toegerus moet word. Of dit nou die pigment-gestremdes is en of dit nou die pigment-bevoordeeldes is, maak nie saak nie. 1 of 2 uit 11 of 13 lyk darem net baie slegter as 3 of 6 uit 11 of 13, nie waar nie?
Kyk my vas en groet my los!
D
Reply
Gaan woon in ’n Duitssprekende land vir ’n rukkie, as Afrikaanssprekende, en kom agter hoe dit beslis ’n Europese taal is. Ek noem dit sommer Germaans. Wikipedia stem ook saam: “Afrikaans is a West Germanic language”. “Afrikaans is ’n Nederfrankiese taal wat ’n lid is van die Germaanse taalgroep”…
Reply
[…] reason they now dance and sing at party conferences, speak African languages (and I don’t mean Afrikaans, which isn’t an African language), and try to reverse engineer the legacy of the socialist, collectivist Steve Biko in an attempt to […]