Liefste leser
Ek weet nie hoeveel plooie jy het, hoe jou huis lyk en waaraan jy dink voor jy gaan slaap nie. Ek weet nie of jy smôrens in die stort sing of vir die voëltjies giggel terwyl jy piepie nie. (Hét jy 'n stort? Myne is groen.)
Dalk het ons al woorde gewissel terwyl jy op pad werk toe was of jou eggenoot jou gekielie het. Miskien lees jy hierdie sin in jou ma se kar op 'n selfoonskerm. (Jammer as jy nounet verongeluk het.) Dalk is jy gay. Dalk het jy 'n afkeur aan mense wat nie die Bybel ken nie. Dalk is jy beide. Ons is almal anders.
Ek twyfel of ons ooit sal ontmoet. Dalk sit jy op 'n ander kontinent. In 'n ander provinsie. Miskien irriteer ek jou. Dalk is jy 'n spambot. Ek ken jou nie, maar ek hou van jou.
Ons kan nog steeds gedagtes uitruil. Ons kan mekaar seermaak, mekaar se mishope verbrand. In dieselfde taal vloek. Soms hoor ons voëltjies terwyl ons piepie. Daarom, liefste leser, en slegs daarom, wil ek graag drie dinge by jou weet:
- Beskou jy jouself as 'n Suid-Afrikaner?
- Beskou jy jouself as 'n Afrikaner?
- Beskou jy jouself as 'n Afrikaan?
Groete
Jou plaaslike gemeenplaasplunderaar
(n.s – Ek onderneem hierdie steekproef na aanleiding van 'n stimulerende gesprek met die gedugte Boer in Ballingskap. Verskoon tog as jy gatvol is vir daai berugte A-woord.)