Hare (soos die lewe, seker maar) kom en gaan. Advertensies ook. Ek lees nou die dag die linkerkantse advertensie raak en wonder toe – is 2008 régtig die jaar van die vrou? Die kopieskrywers is veilig, want hulle gebruik aanhalingstekens. Maar wat sê hulle nou eintlik? Moet ek 'n brafabriek oopmaak?
‘n Bietjie navorsing wys dat 2008 nié die amptelike jaar van die vrou is nie. Dis die jaar van die aartappel en die padda (ek sweer – kyk hier en hier), maar dis omtrent so naby aan lewende wesens as wat dit kom.
Nie dat dit First for women (die versekeringsmaatskappy vir vroue wat agter die advertensie sit) keer om klante te lok nie.
Ek sukkel om agter te kom presies hoekom vrouens 'n eksklusiewe versekeringsmaatskappy nodig het. Is hulle minderwaardig? Nee, hulle is beslis nie minderwaardig nie. Is hulle beter as mans? Nee, mans en vrouens is eweknieë. Het hulle spesiale behoeftes? Ja, maar dis irrelevant; mans het ook spesiale behoeftes.
Daar is vir my 'n paradoks in First for women se korporatiewe identiteit – vroue is klaarblyklik spesiaal en misterieus genoeg om eiesoortige versekering te kry, maar is terselftertyd (volgens omtrent al First for women se advertensies) onkapabele poppies wat ween as hulle motors onklaar raak en behep is met hulle gewig. In beide gevalle is vroue óf superieur óf minderwaardig.
Wat beteken daar word teen alles met óf sonder 'n uterus gediskrimineer. Arme goed.