Is ons pissies?

Maar regtig nou. Is ons 'n klomp lafaards? Of is blogging in Suid-Afrika eenvoudig nog net te swak hiervoor? Maak die taalverskille tussen (veral Afrikaanse) bloggers en die huidige regeerders dit 'n futiele saak?

Jy wonder seker waaroor sanik ek nou. Maklik, eintlik. Ek sanik oor jou. En oor my. Oor hoe ons skynbaar nog nie die mas kon opkom by ons Amerikaanse eweknieë nie. Amerikaanse blogs het sedert 1999 (toe Peter Merholz vir die eerste keer die woord “weblog ” opgedeel het in “we blog”) 'n paar drastiese veranderinge in Amerikaanse media en politiek teweeggebring. En ek meen drasties.

Een voorbeeld is dié van John Kerry (wat in 2004 om die presidentskap van die VSA teen George W. Bush meegeding het) se disproporsionele stories oor sy militêre diensplig tydens die Viëtnamese oorlog. Sy stories van bravade het op dokumente gesteun wat later deur 'n klomp bloggers as vervals bewys is.

‘n Mediareus uit die sogenaamde hoofstroommedia – CBS, in hierdie geval – het egter aangehou om die vervalste dokumente (en Kerry) se integriteit te aanvaar, tot op 'n punt waar dit lagwekkend geraak het. Volgens Hugh Hewitt (self 'n bekende blogger):

Each day Dan Rather [die hoof van CBS] stood by the authenticity of the documents was another day of deserved abuse within the blogosphere and MSM [mainstream media], and eventually people came to see Rather as Rather had seen his original adversary President Nixon, during Watergate: caught in a cover-up, desperate for an exit that never appeared [...] Detailed studies wil go on for years, with books and seminars devoted to the particulars, but there is no changing the meta-message that CBS rushed to run a story that was ridicilously and transparently a fraud because it wanted so badly to believe it wasn’t.

And that the blogosphere exposed the fraud with breathtaking speed and finality.

(Hewitt 2004: 42)1

Die gevolg? CBS lyk belaglik, beleef 'n reuse afname in kykergetalle en John Kerry verloor die verkiesing. Blogs seëvier en verander die Amerikaanse samelewing op 'n onomkeerbare wyse. Hewitt mag dalk ooroptimisties voorkom oor die sogenaamde nuwe media, maar die feit bly staan dat Amerikaanse blogs die Amerikaanse kultuur tot so 'n mate geïnfiltreer het dat dit soms blywende veranderinge daaraan kan aanbring.

Maar ons? Wat doen ons?

Tans nie veel nie2. Of so lyk dit, in elk geval. Dis immers nie asof Zuma destyds deur Mbeki afgedank is of Selebi nou onder kruisverhoor staan omdat 'n klomp bloggers oor hulle “twyfelagtige” karakter geskryf het nie.

Miskien sal plaaslike blogs nooit dieselfde invloed kan uitoefen as hulle Amerikaanse eweknieë nie, juis vanweë plaaslike taalverskille en kleiner lesersgetalle. Steve Hofmeyr se Spoegblok, by verre die Afrikaanse blog met die grootste leserstal, het tot op hede meer as 917,896 hits gekry. Da Mario (nie so) kort op sy hakke (nie) het 86,844 hits.

Dis niks nie.

Amerika se Instapundit het tans 285,772,173 hits, met 'n gemiddeld van 240,775 per dag. Dis al Hofmeyr se hits van amper twee jaar in minder as vier dae.

Sal Suid-Afrikaanse blogs ooit genoeg invloed kan uitoefen op die Suid-Afrikaanse samelewing? Ek twyfel. Nie soos dit nou gaan nie, in elk geval. In September 2003 het meer as die helfte van Amerika se bevolking aanlyn gegaan. Suid-Afrika kan tans maar net droom van so 'n geletterdheidsyfer (want om die internet te gebruik vereis 'n redelike hoë geletterdheidsvlak).

Tog: is lesersgetalle die alfa en die omega van 'n blog se invloedsfeer? Het dit dalk ook (en nou praat ek spesifiek van Afrikaanse blogs) te doen met daai immerbekende gewoonte van baie Afrikaners om agter hulle teekoppies en sekuriteitshekke (in ons geval skerms) te mor oor hoe aaklig omstandighede is, terwyl hulle nie juis bereid is om hulle hande self vuil te maak om dit te verbeter nie?

Het die hoofstroommedia nog te veel van 'n greep op ons doen en late? (Glo jy dat, as iets in Rapport of Die Burger staan of oor Riaan Cruywagen se lippe kom en dit interpretasies van die nuus is, dit “waar” is?) Verkwansel ons onsself aan 'n mediabedryf wat ons stilletjies boei? (Ek sê nie, ek vra.) Of maak ons multilinguistiese konteks dit fisies onmoontlik om ooit genoeg invloed te kan hê met dit wat ons skryf? Poep ons teen die buikwinde van babel?

Kan ons, soos Amerikaanse bloggers, 'n merkbare verskil in Suid-Afrika maak? En indien ons kan, gaan ons ten minste probeer?

Of is ons 'n klomp pissies?

1 Hewitt, H. 2004. Blog – Understanding the information reformation that’s changing your world. Nelson Books : Nashville, Tennesee
2 Daar moet egter melding gemaak moet word van een uitsondering op hierdie skynbare reël – ThoughtLeader.co.za blyk dit reg te kry om 'n hele paar Suid-Afrikaners se idees taamlik seminaal oor te dra.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>