LitNet blogs (steeds geskoei op grotmantegnologie) was onlangs die slagoffer van trefslagbedrog. Meen Melt Myburgh:
Dit het onder ons aandag gekom dat 'n program van buite die geledere van ons topbloggers geskep is wat een of dalk meer van die LitNet-blogs se verkeerstatistieke kunsmatig beïnvloed het. Dit mag wees dat meer sulke programme vuil speel met ons blog-verkeerstatistieke.
Dis moeilik om nie te hiervoor in jou vuis te giggel nie, want die verkeerstatistieke waarvolgens die weeklikse kontantpryse toegeken word, kan met niks minder as 'n F5-knoppie geknoei word nie. As iemand 'n paar honderd keer op 'n LitNet blog stilstaan en refresh, gaan die blog 'n paar honderd trefslae bykry. Dis mos nou nie vuurpylwetenskap nie.
Ewenwel. Iemand (niemand weet eintlik wie nie) was slim genoeg om 'n script te skryf wat outomaties trefslae vir sommige LitNet blogs genereer en nog iemand – ene Johan Pienaar van Stellenbosch – het sy goeie verstand gebruik en dit uitgesnuffel. Pienaar, 'n IT-spesialis, het toe 'n script van sy eie geskryf, wat 'n lukrake aantal blogs se trefslae dienooreenkomstig met die geknoeides s’n verhoog het. Sy verduideliking kan hier gelees word.
Die nadraai hiervan is sporadiese bekgeveggies. My gunsteling is dié van ene Neil Kroese, wat heftig beswaar aanteken teen Pienaar:
…Valentine, dis my hele fokken punt. Hoeveel tyd moes ek spandeer om by Pienaar se manupilasie by te hou? Wel hoe noble van Johan Pienaar om self na vore te kom. Wat my egter ietwat pla is die insinuasies gemaak jeens die “top blogger.” Dit was ek op daardie stadium.
Hoekom tog die heftige reaksie? Want dit alles gaan oor geld (dis tog die wortel van die kwaad). En digitale penisgrootte. Tog hartseer. Kroese (en andere) laat my van vooraf dink aan hierdie bekende kuberidioom:

Die punt?
Prysgeld as insentief om te blog, werk nie. Op die meeste veroorsaak dit digitale penisnyd en inhoud van laer gehalte. Blogging is 'n verskynsel soortgelyk aan Opensource sagteware; 'n gesonde bloggemeenskap is nie een wat 'n monopolie op trefslae probeer kry nie. Tans is die sogenaamde “onafhanklike” Afrikaanse bloggers se vlak van diskoers veel hoër as dié by LitNet blogs, wat my nie veel hoop gee vir die simbiose tussen “normale outjies” en “die meningsvormers waarmee ons elke naweek in Rapport verveel en vermaak word” nie. As dit die vlak van debat is, gebeur net mooi die omgekeerde.
LitNet moes van meet af besef het dat goeie blogs tyd nodig het om gewild te raak. Iemand het heel duidelik nie navorsing gedoen nie.