À la défense des bullshitters

Wat is die postmodernisme? Soos kwantumfisika, reken ek, het mense wat aanvoer dat hulle dit begryp gewoonlik nie 'n greep daarop nie. Nie omdat verskeie sogenaamde postmodernistiese tekste (soos Alan Sokal pragtig bewys het) 'n klomp sinnelose snert is nie, maar juis omdat dit beperk is tot die kader van die literatuurwetenskappe. Dit is die breinkind van 'n klomp filosowe en literatuurwetenskaplikes, word aangehang en uitgebrei en gekritiseer deur filosowe en literatuurwetenskaplikes en is die onderwerp van bespreking in die vaktydskrifte van – reggeraai – filosowe en literatuurwetenskaplikes (teoloeë ingesluit).

Vra gerus vir die man op straat wat hy dink van die omverwerping van logosentrisme in Derrida se werk. Hy sal jou aankyk asof jy besope is. Versoek hom gerus ook om vir jou 'n opstel te skryf oor die afwysing van 'n finale betekenis, die oormatige gebruik van historiese stof en die intertekstuele web van betekenisse tussen tekste (wat al is wat daar éintlik is) en hy sal ook min of meer reken jy’s die kluts kwyt. Postmodernistiese argitektuur lyk vir 'n “ongeskoolde” buitestaander bloot vreemd en die logika agter iets soos Rauschenberg se “Erased De Kooning” (‘n kunswerk wat bestaan uit niks meer as 'n skildery van Willem de Kooning wat Rauschberg stelselmatig – in die bestek van omtrent 'n maand – uitgevee het nie) ontglip baie mense.

‘Point being.

As jy iewers op iemand afkom wat die frase “ons lewe in 'n postmoderne tyd” rondgooi soos 'n baba in 'n bad of probeer aanvoer hoe postmodernisme die raamwerk vir en oorsaak van 'n wettelose samelewing is waarin alle waarheid verdamp het en almal reg is oor alles behalwe die Bybel, is hulle besig om die teetydpraatjies van 'n sekere spesie akademici oor artifakte wat deur hulle porture geskep is, te ekstrapoleer tot 'n allesomvattende werklikheid. Dis soos om eendag skielik op te let daar is iets soos krieketspelers en dan daarop aan te dring dat ons lewe in 'n tyd waar dinge nie belangrik is as dit nie met 'n kolf gemoker kan word nie.

(Skies, Roer, ek weet jou inskrywing handel eintlik oor feminisme.)

This entry was posted in Taal and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>