
Iets wat my veral bygeval het toe ek BakGat gekyk het, was hoe al die Afrikaanse rockbands op die klankbaan (en dis basies maar die bestek daarvan) vals is. Net plein vieslik lelik afskuwelik ongoddelik belaglik adjektiewe sonder die nodige kommas vals. (Ek oordryf nie.) Veral Ef-El en Glaskas is skuldig hieraan. Intonasie het 'n stille dood gesterf. Trouens, die enigste liedjie waarin iemand hoegenaamd konsentreer op wat hy sing, is Shaun V se Engelse “I’m not human”.
Goeie Afrikaans (ja, daar is so iets en nee, dit sluit nie noodwendig kodewisseling uit nie) het ook sleg tweede gekom, met lirieke soos:
“Hy staan op en renoveer sy lewe” (Ef-El; “renoveer” uitgespreek as “renoweer”)
“Sy het my manipuleer” (Ef-El)
“O, ek’s nog nooit 'n kind” (Ef-El)
“O, al die tieners van vandag so kak jags” (Ef-El)
Ek besef die oorgrote meerderheid van die bands op die klankbaan (met die uitsondering van Straatligkinders en Die Melktertkommissie) is nog in die skool of pas daaruit, maar dis myns insiens nie 'n verskoning vir lirieke met basiese taalfoute nie. Dit help ook nie om jouself te beroep op digterlike vryheid nie – dis iets wat jy slegs vir jouself kan toe-eien as jy alreeds jou medium onder die knie het. Du Champ kon Nude Descending a Staircase nr 2 met reg verf omdat hy ook fotorealistiese tonele kon skep. Op die minste moet jy ten minste 'n basiese kennis hê van dit wat jy omverwerp.
Waar is die dubbele ontkenning? Die korrekte tydsaanduiding? Die hulpwerkwoorde? Die showing eerder as die telling? Is dit regtig so moeilik om ten minste (soos Hunter Kennedy) 'n woorde- of gesegdeboek byderhand te hou as jy skryf?
Of jou kitaar te stem?