Te min tyd, te veel blogs

Die Tydskrifprojek, soos baie van julle al sou agterkom, het stil gaan staan. Die rede hiervoor is dat, hoewel ek en andere baie opgewonde was oor die konsep, dit baie moeilik geraak om dit volhoubaar te maak.

Om mee te begin was dit nie werklik 'n tydskrif nie, maar 'n antologie. Hierin is reeds 'n groot stuk problematiek opgesluit, aangesien 'n antologiseerder slegs 'n antologie kan saamstel na 'n deeglike ondersoek van die beskikbare bronmateriaal. Toe die projek begin het, was daar min genoeg Afrikaanse blogs om 'n verteenwoordigende aantal inskrywings te publiseer. Na dese is daar egter soveel Afrikaanse blogs, dat dit onmoontlik geraak het om almal te lees.

Die ironie van die saak is dat die eerste uitgawe reeds nie verteenwoordigend was nie. Dit was hoofsaaklik 'n sny van die WordPresspastei, terwyl daar toe reeds 'n hele paar self hosted blogs en ander by iblog, blogger en elders was. Intussen het LitNet ook bygekom. Die eerste probleem is dus eenvoudig dit: dit het onmoontlik geraak om die sogenaamde “beste” inskrywings te kies, want dit was nooit moontlik om alles te lees nie.

Die tweede probleem was dat ons gesukkel het om materiaal te kry. Vir die eerste uitgawe was daar 'n totaal van twee inskrywings. Almal was opgewonde oor die projek, maar weinig het die moeite gedoen om data by te dra. Was dit nie vir die samewerking van Blik nie, sou ons nooit meer as daardie twee gehad het nie. Blik se inskrywings is egter almal bygedra deur 'n klein groepie mense, wat beteken het dat dit nie baie verteenwoordigend was om mee te begin nie. (Baie dankie, terloops, aan daardie mense.)

Die meemmetode wat gebruik is om bloggers aan te moedig om self materiaal in te stuur, het beter gevaar, maar daar het min inskrywings ingekom wat op standaard was. Meer nog was dit steeds nie verteenwoordigend van die Afrikaanse blogosfeer nie. Hoe meer ek probeer het om myself te oortuig om 'n afsnypunt te kry en tog maar die volgende keurdersmanuskrip uit te stuur, hoe meer het 'n stemmetjie my gemaan om te wag tot daar meer verteenwoordigende inskrywings ingestuur word. Dae het weke geraak, weke het maande geraak en maande het heeltemal te veel nuwe blogs geraak.

Ek is steeds oortuig dat iets soortgelyks kan werk, maar om dit saam te stel op die huidige metode deug nie. Vir 'n projek soos hierdie benodig 'n mens 'n voltydse redaksie en baie tyd. Ons het nie een van die twee gehad nie.

As iemand 'n beter idee het en bereid is om die leisels te vat, gee ek dit graag aan. Stuur vir my 'n e-pos by gormendizer BY gmail DOT com

This entry was posted in Blogging and tagged . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>