M0sh soos ‘n dier, huil soos ‘n baba – die vele fasette van Cobus Potgieter

Cobus Potgieter, perkussionis extraordinare, se videos word daagliks deur meer mense gekyk as dié van selfs die mees gesoute Suid-Afrikaanse musikante. Met amper 15 000 abonnees (dis hogere Afrikaans vir intekenaars, as jy gewonder het) en nagenoeg 6 miljoen hits in die eerste 13 maande, is hy besig om vinnig aandag te trek in die vermaaklikheidsbedryf. Onder andere is hy die enigste persoon buite Noord Amerika wat geborg word deur uDrum (wat bands soos Finger Eleven, Silverstein, Protest The Hero en Alexisonfire borg) en word hy vroeg volgende jaar Italië toe gevlieg om session drumming te doen.

Die GormenDIzer Media Eenmanskap het hom genader vir 'n onderhoud. Hier is wat hy te sê gehad het:

Hoe lank speel jy al dromme? Hoe het jy begin?

Ek het middel 2002 begin, so dis nou so ses en 'n bietjie jaar. Die erg konserwatiewe NG Kerk waarin ek toe was, het 'n uitreik gehad na ander dele van die dorp toe en in een van die ander kerke was daar 'n dromstel. Die een dude het vir ons almal die basiese 4/4 rock beat gewys, en toe ek dit met die eerste probeerslag regkry, het die gogga my op 'n vreesaanjaende manier gebyt.

Uit die fietsry-fase uit, in die musikant-fase in. Was 'n goeie skuif, though.

Jy is veral bekend vir jou drum covers op YouTube. Waar het jy aan die idee gekom?

Vanaf die eerste dag wat ek my eerste drumkit gekry het, het ek saam met my gunsteling musiek gespeel (in daardie dae nog enige en alle punk waarop ek my hande kon kry. Blink-182 ftw). Die effek wat ek gekry het om so “deel van die musiek” te voel was nog altyd awesome, ek was mal daaroor. Die drum cover idee kom al baie lank aan en die feit dat ek dit middel 2007 semi-professioneel kon opneem by my nuwe (minder konserwatiewe) kerk hier in Bloem en dit op YouTube kon sit, het baie groter gevolge gehad as wat ek ooit sou kon dink.

Kan jy 'n opsomming gee van hoe jy die videos vervaardig?

Ek kies gewoonlik liedjies waarvan ek hou of waarmee ek weet ek lekker saam kan jam, so dan ken ek klaar die basiese struktuur uit my kop uit. Ek gaan dan kerk toe, stel alles daar op, handel al die camera blocking, beligting en soundchecks af en dan neem ek op. Ek probeer altyd om die liedjies self so min as moontlik voor te berei, sodat ek die oorgrote meerderheid kan improviser; dit hou dinge lekker vars en onvoorspelbaar.

Daar bestaan ook verseker iets soos die YouTube weergawe van 'n statshoer. Iemand wat sekere liedjies kies net om soveel views as moontlik te kry. Ek probeer maar 'n fyn balans kry tussen die liedjies waarvan ek hou, en die liedjies wat lekker views genereer.

Hoe voel dit om daagliks deur duisende mense beloer te word?

Vreemd! Op die oomblik staan dit op so tussen 20,000 en 30,000 views per dag, wat vir my maar 'n moeilike konsep is om te verstaan. Dit het eers vir my begin sin gemaak toe ek agterkom dit is so goed soos om elke tweede dag in 'n uitverkoopte Loftus Versveld te speel! Die feit dat amper 6 miljoen mense weet hoe ek lyk is verseker iets anders om aan gewoond te raak.

Wat is jou gunsteling cover tot dusver?

In terme van die tegniese aanslag, moet ek sê Tripping Billies van die Dave Matthews Band. In terme van vermaaklikheidswaarde is dit egter verseker Face Down van Red Jumpsuit Apparatus. Face Down is ook die video wat al die meeste gekyk is.

Vertel ons 'n bietjie van Inslomotion. Wanneer verskyn die eerste album? Gaan ons soos diere m0sh?

Inslowmotion is die band waarin ek op die oomblik speel. Ons is al so 'n jaar en ses maande saam, waarvan ons tot dusver 10 maande in studio is, besig met die opname van ons debuut vollengte album. Dinge is al verskeie kere uitgestel en verleng, maar ons gaan almal Donderdag ateljee toe om na die eerste finale mastermix te luister, daarna is dit niks meer as 'n week of twee voor die album klaar is nie. Sodra dit afgehandel is, bly nog net die ontwerp en duplisering oor.

Ek het ook vyf van ons liedjies (drie Engels, twee Afrikaans) gecover vir YouTube in my tipiese formaat. Met die 15,000 subskripsies vir my videos en die 20,000 views per dag is ons baie opgewonde om te sien wat sulke tipe publisiteit dalk mag bring.

Julle gaan m0sh soos diere, huil soos babas, en saam lip sync soos Nicholis Louw. Ek is woes opgewonde.

En die Glaskas-dae? Mis jy dit?

Nee wat. Dit was 'n wonderlike tyd, ek Deon en Gordon is nogsteeds baie goeie vriende en maak altyd planne om mekaar te sien as ons in mekaar se omtrek is, maar hoe meer ek kans kry om terug te kyk, besef ek dinge het verseker uitgewerk soos hulle moes.

As jy enige ander instrument kon leer speel, wat sou dit wees?

Bass…ek sal maar graag in die rhythm section wil bly ;) Maar as ek iets anders moes kies, ongetwyfeld kitaar, aangesien dit effens moeilik is om 'n meisie met 'n dromstel te serenade.

Jy gaan studio drumming in Italië doen! Hoe het dit gebeur?

Haha ja, dis nogals mal! Daniele Liverani van Italië het my video’s opgespoor en so baie van my styl gehou dat hy my gevra het om die dromme te speel vir sy volgende album. Op die oomblik lyk dit egter meer asof die opname gaan gebeur in Januarie/Februarie 2009. Hy het alreeds vir my 'n DW doublebass pedal van R2,500 al die pad van Italië af geborg waarmee ek kan oefen, voor die platemaatskappy Lions Music my oorvlieg vir twee of drie weke sodat die laaste skryfwerk en finale opnames kan plaasvind.

As jy al die geld in die wêreld gehad het, wat sou jy daarmee doen?

As ek al die geld in die wereld gehad het, sou niemand anders geld gehad het nie, wat beteken geld sou pretty much useless gewees het. So ek sou dit maar teruggee vir almal en dalk so miljard of twee oorhou ;) Dit behoort genoeg te wees om die startup kapitaal te dek van Die Produksiehuis, hoes hoes…

As jy 'n jaar saam met 'n ander musikant op 'n eiland moes uitspoel, wie sou jy kies?

As verveeldheid my grootste kwessie was, dan definitief jy dude. Miley Cyrus is egter 'n baie naby tweede plek.

Is dit dromme of tromme?

Dromme, alhoewel ek verseker NIE 'n “drommer” is nie…Niks klink nog tans so cool soos ‘drummer’ nie… maar julle is baie welkom om my te probeer oortuig :)

Sal jy ooit 'n Quake III logo op jou kickdrum blasoeneer?

Verseeeeker. Ek sal dit sterk oorweeg om 'n Q3 tattoo te kry.

Jy is nog lekker jonk in die bedryf. Hoe lyk jou planne vir die pad vorentoe?

Op die oomblik sien ek baie uit om my nuutste reeks video’s op YouTube los te laat en te sien wat gebeur. Daar is ook verskeie ander opsies in die pyplyn, nogal heelwat belangstelling vanaf die VSA, veral in terme van die bemarkingsmoontlikhede van my video’s. Alles is verseker baie opwindend op die oomblik, ek ry maar die golf solank hy hou :)

Enige raad vir aspirantperkussioniste?

Sjoe dis 'n mooi word. Ek weet dit mag dalk effens corny klink, maar talent is nie naastenby soveel werd soos passie en harde werk nie. Weet jy, skroef harde werk…ek is vas oortuig dat as jy passievol genoeg is, al die regte bestanddele van 'n wêreldklas musikant hul verskyning sal maak.

Cobus Potgieter word tans geborg deur:

Music Connection (www.musicconnection.co.za)
uDrum, Kanada (www.udrum.com)
Samson Electronics (www.audiosure.co.za)

This entry was posted in Musiek and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>