Wat is “waarheid”?
Foneties is dit 'n woordjie met twee lettergrepe wat voorgestel word deur agt letters van die Romeinse alfabet en bestaan uit twee vokale en vier konsonante. Dit begin met 'n stemhebbende, labiodentale frikatief en eindig met 'n stemlose, alveolêre eksplosief. Tussenin is 'n triller, 'n diftong en 'n oop, ongeronde vokaal, wat elkeen mag wissel in uitspraak afhangende van watter dialek, sowel as idiolek, die spreker besig. Dit kan gefluister, geskree, gesis of gemompel word in verskillende toonhoogtes teen verskillende tempo’s met verskillende timbres.
Sintakties is dit 'n abstrakte naamwoord, wat sowel 'n onderwerp as 'n voorwerp in 'n sogenaamde SV-res taal kan wees. Hoewel dit nie as 'n werkwoord kan optree nie, is dit moontlik om dit te verbaliseer (te verander in 'n werkwoord), re: “bewaarheid”.
Tekstueel gesproke is dit 'n klomp merkies – strepies, krulletjies en 'n kolletjie – wat op verskeie maniere voorgestel kan word. Hierdie voorstellings, hoewel dit ten doel het om 'n abstrakte idee te verteenwoordig, is meermale konkreet. Dit kan in 'n boom of 'n parkbankie gekrap word, dit kan met ink, was, lood en houtskool op papier geskryf of gedruk word, dit kan op 'n skerm vertoon word deur fosfor met elektrone te peper of wisselende ligintensiteite deur vloeibare kristal te laat, dit kan in die lug geskryf word met rook, in die sand met spoeg en 'n vinger, dit kan in metaal gebrand word met chemikalieë, uit klip gekap word met 'n bytel, op vel geëmblasoeneer word met 'n tattoëermasjien – dit is voldoende om te sê dat die moontlikhede legio is.
Op leksikale vlak is dit 'n taamlik neutrale woord, met weinig wisselende stylvorme. Gedeeltelike sinonieme sluit in “sekerheid”, “korrektheid” en “waarskynlikheid”. Dit is egter in hierdie sinonieme waar ons potensiële verwarring vind, want semanties dui nie een van hierdie woorde op presies dieselfde begrip nie. 'n Mens sou byvoorbeeld kon sê:
“Ek dink nie dis waar nie”
…wat nagenoeg dieselfde kan beteken as:
“Ek dink nie dis waarskynlik nie”
…terwyl altwee, afhangende van die betrokke konteks, ook twee heeltemal verskillende betekenisse kan dra.
Dit is juis op semantiese vlak waar mense begin vashaak. Wanneer kwessies soos seksualiteit, godsdiens en politiek (of enigiets anders wat gewoonlik lei tot emotiewe reaksies) aan bod kom, maak talle mense gereeld daarop aanspraak dat hulle die Waarheid beet het. Die probleem is natuurlik dat hulle dieselfde woord gebruik om na verskillende dinge te verwys – en in dieselfde asem met mekaar redeneer asof daar net een betekenis is. As Lina Spies en Angus Buchan se menings oor wat waar is byvoorbeeld nie strook nie, is dit omdat hulle heimlik na twee verskillende begrippe verwys.
Nou ja, toe. Chew on that. Sodra ek tyd kry, skryf ek nommer 2 van n. Wittgenstein, yes?
Hat tip: Emil Jung
