Almal weet alles want almal ken vir Steve

Steve Hofmeyr deur die oë van Rodin

Is dit nie verbysterend hoe ons soms dink ons ken intieme details van mense wat ons eintlik van geen kant af ken nie?

Toe Diana Spencer dood is, het “die wêreld” getreur. Suid-Afrikaners ook. Ons het nie eintlik enigiets meer van haar geweet as wat in Die Huisgenoot gestaan het nie (pixelated steelfoto’s ftw!), maar ons was hartseer. Ons het skielik omgegee oor Charles en William en Harry – ons het hulle selfs op hul voorname genoem – maar ons het nooit juis hul hande geskud, gehoor hoe klink hulle wanneer hulle slaap of 'n gesprek met hulle gehad nie. Tog het ons opgetree asof ons hulle ken, gepraat asof ons al met hulle gepraat het.

Nou skei Steve Hofmeyr en Natasha Sutherland en (soos dit seker maar te wagte is) staan elke Jan Rap en sy maat reg om hul tande in die situasie te slaan. Al het nie een van hulle ooit met Hofmeyr of Sutherland gepraat nie, het elkeen 'n opinie. Soos byvoorbeeld:

…Steve sal nooit vir Tasha sleg se nie, kom ek se jou nou vandag iets, die dag wat hy dit doen sal dit die een ding wees wat ek hom nie sal vergewe nie, sy’s amazing met styl en klas wat ongeewenaar is, after all erken hy dat hy steeds vir haar lief is, die ander kinders se mas is ook nog nooit deur hom aangeval nie, gee hom darem eer in sekere dinge! (Ingrid)

‘n Mens sou seker kon wonder hoe Ingrid weet Hofmeyr sal Sutherland nooit slegsê nie – het hy dit self vir Ingrid vertel? Gaan Ingrid hom bel en persoonlik sê sy sal hom nie vergewe nie? (Gaan hy omgee?) Kan 'n mens iemand vergewe wat niks aan jou gedoen het of nog nooit met jou gepraat het nie? Hoe weet Ingrid Sutherland het styl en klas – kuier hulle saans saam om 'n glasie rooiwyn?

Dan is daar die oortreffende trap:

Liewe land, Steve, wanneer gaan jy grootword? Mens kan nie volhard in buite-egtelike verhoudings en dan dink alles is honkie-dorrie nie. Bly maar alleenloper, dan kan jy rond rumoer soos jy lus het. Jy sal nie ophou met jou streke TENSY jy 'n ware bekering deur die Heilige Gees ervaar het nie. Dis jammer dat jy Natasha se vertroue so vertrap het. (Antjie Somers)

Antjie Somers praat met Hofmeyr asof sy sy ma is – en sy ken hom van geen kant af nie. Sonder dat sy dit werklik geverifieer het, wéét sy sommer alles van Hofmeyr se godsdienstige lewe af. Alles.

Klaarblyklik ken almal hom.

Die hele affêre herinner aan Baudrillard se aandrang daarop dat die hedendaagse mens so versonke in hiperrealiteit is dat die werklikheid iewers in Argentinië voor 'n vuurpeloton gesneuwel het. Ingrid en Antjie Somers ken nie vir Hofmeyr nie – hulle ken die persona van 'n suksesvolle sanger met 'n stormagtige liefdeslewe wat vir hulle in die media, op die sanger se eie (destydse) blog, op die vooraansigte van albums, pamflette en plakkate voorgehou word. 'n Persona wat toevallig Steve Hofmeyr heet.

Dít is verbysterend: dat mense in gesprek tree met 'n persona wat nie bestaan nie van 'n persoon wat hulle van geen kant af ken nie.

*erratum* Daar is 'n moontlikheid dat die Ingrid wat in hierdie inskrywing aan bod kom werklik vir Hofmeyr ken. Indien dit die geval is, geld my kommentaar by Bosparra. Die strekking van hierdie inskrywing bly egter dieselfde. *erratum*

This entry was posted in Mymering and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>