deur Willie Ritteltitspies, soos versoek deur Konfytbekkie
Die wêreld is vol gevare: terroriste, besope motorbestuurders, kleuters met vetkryte…die lys is eindeloos. 'n Onlangse insident het nog 'n potensiële euwel vir die sameleweing geïdentifiseer – wafelpanne.
'n Arme ou oom het amper sy lewe verloor toe hy vergeet het om sy wafelpan, 'n geskenk van sy kleinkinders, af te skakel. Volgens die ou oom (hy wou nie sy naam bekend maak nie) het hy en sy vrou besluit om wafels te maak vir ontbyt. Hulle het aan die werk gespring en die een heerlike wafel na die ander gemaak.
Nadat hulle dit geëet het, het hulle na die kombuis teruggekeer om skottelgoed te was. Toe hulle egter by die kombuis inloop, het hulle die skok van hulle lewe gekry. Hul kosbare wafelpan was besig om raserig rond te skud. Dit het van die tafel afgeval en met 'n oorverdowende geraas ontplof. Soos vroeër genoem het die ou oom ongeskonde van die ontploffing afgekom.
'n Stuk nat deeg het egter sy vrou teen die voorkop getref en haar dadelik bewusteloos geslaan. Die pogings van 'n hele noodhulpspan was nodig om die deeg van haar kop af te trek.
Bogenoemde insident is maar een voorbeeld van talle wafelpanontploffings. Die ontploffings is 'n nuwe verskynsel en wetenskaplikes poog tans om 'n oplossing vir hierdie probleem te vind. Ons het met Prof. W.T.R van die Universiteit Witwatersrand gaan praat. Prof W.T.R is 'n wafelkenner.
“Ons is nog nie seker wat die presiese oorsaak van die ontploffings is nie,” het hy gesê “maar is tans besig om die besigheid te ondersoek.”
Toe ons hom ingelig het dat die hele wêreld reeds daarvan bewus was dat hulle niks van die ontploffings af weet nie, het Prof W.T.R ons net 'n skewe, senuagtige kyk gegee. Daarna het hy vir my en my kameraman elkeen 'n warm wafel aangebied.