Diftonge – Die glyplanke in jou mond

Onthou jy hoe jou Afrikaanse onderwyser op skool probeer het om vir jou te verduidelik wat 'n diftong is? Was jy deurmekaar? Het jy ongemaklik tydens eksamenvoorbereiding voorbeelde uit jou kop geleer sodat jy darem net punte daarvoor kan kry?

Lees gerus verder.

‘n Diftong is 'n fonetiese eenheid…met ander woorde dit is 'n klank nie 'n letter nie

‘n Diftong is 'n fonetiese eenheid (die amptelike term is 'n “foon”), met ander woorde: dit is 'n klank – nie 'n letter nie. Hierby is dit ook, anders as wat talle onderwysers leerlinge probeer wysmaak, 'n klinker. Klinkers is om die beurt nie, soos skoliere jaarliks ook geleer word, die strepies en krulletjies wat ons as die letters “a”, “e”, “i, “o”, “u” en “y” in die Romeinse alfabet ken nie. Inteendeel. Klinkers (sowel as medeklinkers) is ook fonetiese eenhede wat klank verteenwoordig waar lug vrylik oor en deur die aktiewe (jou tong en jou lippe) en passiewe artikulators (jou kakebeen, verhemelte en wange) vloei, in teenstelling met medeklinkers – wat bloot op 'n versperring van die lugstroom dui.

Die “definisie” van 'n klinker wat skoliere aangeleer word (dat dit een van 5 letters is), is eintlik 'n baie swak definisie. Daardie vyf lettertjies, saam met dinge soos diakritiese simbole (die merkies wat gewoonlik bo of onder letters kom) en leestekens (die merkies wat normaalweg langsaan letters kom) kan maklik sestien of meer klanke voorstel. Toets dit vir jouself – sê hardop: “kat”, dan: “water” (in Afrikaans) en daarna: “water” (in Engels).

Jy sal drie totaal verskillende klanke hoor wanneer jy die “a” uitspreek.

Die rede hiervoor is dat geskrewe taal bloot 'n abstraksie van gesproke taal is. Omdat ons die Romeinse alfabet gebruik, het ons net 6 simbole wat kan aandui dat 'n klank met geen of weinig versperring in die lugstroom (‘n klinker) gevorm moet word. Dit beteken egter nie daar is net 5 of 6 Afrikaanse klinkers nie! Al waarop dit dui, is dat ons skrifsisteem net ses simbole het wat klinkers kan voorstel.

So, wat is 'n diftong?

Wel, dis juis nié 'n letter nie. Dis 'n klank. Om presies te wees, dis 'n klinker wat van een klankkwaliteit na 'n ander gly terwyl jy dit uitspreek. Jou onderwyser het jou dalk vertel dat die enigste diftong in Afrikaans die “y” is. Wat hy jou eintlik moes vertel, is dat die letter “y” die enigste simbool in die Romeinse alfabet is wat op sy eie 'n diftong in Afrikaans voorstel. Daar is egter talle ander. Toets dit weereens vir jouself; sê die volgende hardop:

“Seën”

“Nou”

“Ai”

“Gooi”

Let telkens op hoe jou mond van vorm verander en die klank van een klankkleur na 'n ander gly. Jy het sopas diftonge geuiter. Kontrasteer dit gerus met monoftonge (dit behoort maklik wees om uit te pluis wat dít beteken):

“Kep”

“Hut”

“Sit”

“Naam”

Daarsy. As jy ooit weer jou onderwyser sien, wys hom gerus waar Dawid die foneme begrawe het. Hoflik, natuurlik. Gaan dan voort en verkondig die goeie nuus aan die uithoeke van die aarde (dis vol Afrikaners).

This entry was posted in Taal and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>