‘n Mens hoor gereeld hoe die internet besig is om koerante se lewensbloed vol gif te pomp. Sommige sê blogs, twitter feeds en soortgelyke gereedskap is die nuusdraers van die 21ste eeu. Party noem dit die nuwe media (vurige aanhangers gebruik hoofletters) en glo dat nuus soos ons dit ken, besig is om uit te sterf. Die establishment en sy afkamping van intellektuele eiendom word boonop gesien as 'n boelie. As jy Steal This Film gesien het, glo jy dalk die korporasie is boos, kapitalisme is 'n onnodige manier om geld uit onskuldige verbruikers te pers en gratis media (gratis, soos bier) is die pad na die toekoms.
Dis nie heeltemal waar nie.
Vir die massas om byvoorbeeld 'n vollengte film te steel, moet daar eers produksiehuis wees wat dit kan vervaardig. (Dit vereis geld, tyd en bekwame personeel om iets meer as montages met 'n stem te vervaardig.) Om insgelyks 'n DVD-opname van, sê, Yngwie Malmsteen en 'n simfonieorkes via Torrents te versprei, vereis eers vaardige musikante, kameramanne, redigeerders, stelontwerpers, grafiese kunstenaars, instrumentbouers, tegnici, bemarkers, uitgewers…[voeg skynbaar eindelose lys hier ]…en geld. Die produk moet eers kant en klaar wees voor dit gratis versprei kan word.
Dieselfde geld vir koerante.
Om op jou blog te skree dat die Ou Media gaan ondergaan en die blogosfeer 'n vurige nuwe Prometheus is wat vuur aan die massas bring, vereis ietwat ironies dat die pers nie mag uitsterf nie. (Dis soos die radikale ateïs wat op die kerk se dak staan en aandring dat dit gesloop moet word.) Waar kry bloggers die nuus waaroor hulle skryf? Dis reg: by die “tradisionele” media.
Wie het in elk geval besluit die pers sterf uit?
Die rolpers is dalk besig om krampe te kry, maar nie die pers nie. 'n Groot fout wat kritici maak, is om koerante met papier te verwar. Om objektiewe, neutrale nuus aan die publiek te bring, is 'n taak wat geen blogosfeer kan of behoort te verrig nie. Daarvoor is mediahuise met geld, bekwaamheid en reikwydte nodig. Jy kan nie oor die krisis in Darfoer blog as jy nie daarvan weet nie – en jy gaan nie daarvan weet as 'n verslaggewer nie iewers onder die spervuur sit en inligting daaroor via 'n sattelietfoon na sy mediahuis smokkel nie. (Hoe gereeld bespreek jy vliegtuigkaartjies?) Nie eers Kevin Sites kan op sy eentjie verslag lewer sonder Yahoo! News wat hom borg nie.
Koerante is lankal nie meer net papier nie. Op plaaslike bodem is die Mail & Guardian en www.mg.co.za byvoorbeeld nie twee verskillende produkte nie. Dis een en dieselfde ding – die daaglikse resultaat van 'n uiteenlopende konglomeraat werknemers met diverse vaardighede.Dit wat gedruk word dra inligting dalk anders oor as dit wat op skerms vertoon word, maar die kern wat die produk voortbring, bly dieselfde. Trouens, aanlynkoerante en die aanlynverryking van drukinhoud vereis méér personeel met méér vaardighede as die koerante van 'n dekade gelede.
Terwyl “sosiale media” vir 'n wyle al 'n gonsterm is en al wat 'n hoof uitvoerende beampte oor hul voete val om seker te maak hul nuusagentskap hou tred met die tyd, sit ons heimlik met 'n dreigende inligtingsinploffing op hande. Ek is nie een vir pessimisme of samesweringsteorieë nie, maar as nuusnetwerke hand en tand gaan belê in sosiale media, lyk die toekomstige nuusverbruiker maar vaal. In 'n medialandskap waar gebruikergegenereerde inhoud die botoon voer, is die deursnitleser 'n leek wat dink hy weet alles en feite vae skimme wat tussen raaiskote en onkunde dobber.
Die “nuwe media” is nie die volgende stap in die evolusie van verslaggewing nie. Dis die aanbreek van 'n era waarin mense glo dis hul reg om data gratis te verkry en meer wil hê as wat hulle bereid is om self te vervaardig. Sosiale media en die gereedskap wat dit stu, is nie die teenpool van tradisionele nuus nie. Inteendeel. As Jan Rap kan Tweet, kan News24 dit ook doen.
Wie se feed gaan jy vertrou?