Prost (Ver 2.0)

Dis altyd vir my interessant om te sien hoe bloggers hulle blogs gebruik om eksistensiëel te groei en dan die titel van die blog verander. Dit beteken twee dinge – hulle kon suiwer deur debatvoering en gesprek met mense wat hulle meestal van geen kant af “ken” nie persoonlike ontwikkeling ondergaan en die blog het só deel geraak van hul lewe dat hulle altemit nie 'n bestaan daarsonder kan verbeel nie. Trouens, hulle ag dit nie nodig om die blog op die ashoop te werp nie, maar gee dit eerder 'n ander naam sodat hulle kan aanhou blog. Die middele raak die doel.

Ek is een van daardie mense. Omtrent 'n jaar gelede het ek 'n kopskuif aangekondig (ek weet nou nog nie wat dit is nie) en steeds kan ek nie ophou blog nie. Sammi, wie se onlangse inskrywing hierdie een se inspirasie was, het dit gister gedoen. Seker die mees klassieke voorbeeld in die Afrikaanse blogosfeer is dié van Do Kwang, wat van Slapende Honde na Salige Rus na Salige Stilte en toe na die Groot Niet verskuif het. (Skakels nie beskikbaar nie. Hy’t almal uitgewis.)

Partykeer wonder ek wat dryf ons om te blog – dan vind ek myself skielik voor my sleutelbord, slaggereed om 'n antwoord daarop neer te pen. Dan laat sak ek my hande, want die antwoord lê in hulle opgesluit.

Om te blog is om te sê jy is hier en jy gee om oor die wêreld – al is dit deur te kla. Om te blog is om te weier om op te hou groei, al besef jy dit nie. Dis om meer te wees as jou omstandighede. Dis om jouself te assimileer in die massas wat nie graf toe wil gaan nie, maar graag iets van waarde op hul grafstene wil hê.

Prost, vriende.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>