‘n Mens hoor deesdae nogal baie hoe mense meen dat ryk uitvoerende beamptes en ander hooggeplaastes in maatskappye gerus hul eie salarisse kan sny om afdankings te verhoed. Sodoende, word daar gesê, kan almal deur moeilike ekonomiese tye kom.
Dis in sommige opsigte 'n edel argument, maar dit sit die pot ietwat mis.
Ja, as General Motors se hoof uitvoerende beampte sy salaris halfeer, kan hy ongetwyfeld kos op talle van sy werknemers se tafels verseker en hoef niemand afgedank te word nie. Nie vir 'n maand of twee nie, in elk geval. Daarna val die hele argument plat.
Al dank General Motors (of enige ander maatskappy wat 'n verlies ly vanweë die ekonomie wat met sy kop tussen sy bene sit en braak) niemand af nie en dwing hulle hul base om gerantsoeneerde blikkies kos te eet en 'n LSM-2 leefstyl te leef, gaan dit nie die oorspronklike probleem oplos nie, naamlik:
Dit gaan nie 'n groter aanvraag na karre skep nie.
Dis nie 'n oplossing nie. It’s flogging a dead horse. Na 'n paar maande gaan daar weer nie geld wees nie – en dan gaan daar in elk geval mense afgedank moet word.
