“With advertising, the free market does not yield a neutral system in which final buyer choice decides. The advertiser’s choices influence media prosperity and survival.” — Chomsky & Herman
As jy gereeld hier lees, sal jy onthou dat ek en Leon Jacobs vir 'n wyle oor sosiale media geredekawel het. Hoewel ons mekaar meer misverstaan het as enigiets anders (en die gesprek op koerante gefokus het, wat van die punt van die oorspronklike inskrywing afgewyk het) en ek steeds oortuig is dat blogs sonder die pers gaan sukkel om te funksioneer soos hulle tans doen, het ek intussen besef dat die “pers” wat ek ingedagte gehad het nie bestaan nie.
Die idee wat ek in my kop gehad het terwyl ons gedebateer het, was dié van 'n demokratiese instansie toegewyd aan die publiek, wat objektiewe verslaggewing sistematies en sorgvuldig aan die massas lewer ten einde hulle ingelig te hou aangaande die wêreld rondom hulle. Terwyl ek egter die afgelope tyd deur Chomsky en Herman se “Manufacturing Consent: The political economy of the mass media” gewerk het, het dit my getref dat my droomkoerant nie vreeslik gewild is by mediahuise nie.
Droomkoerante lewe nie lank nie.
Hoe dan anders? Die ekonomiese lewensbloed van enige tradisionele mediapublikasie is die inkomste wat hulle van advertensies en beleggers af kry. Om die beleggers of die adverteerders onherroeplik te kritiseer, is bykans onmoontlik vir enige publikasie wat in vandag se moeilike tye wil oorleef – want as maatskappy X R20 miljoen se advertensiespasie by publikasie Y koop, kan publikasie Y se joernaliste maar boe of ba soos wat hulle wil – daar sal nie stringe ontblotende stories oor maatskappy X se onwettige fabrieke, belastingontduiking of menseregteskendinge aan die ander kant van die aardbol geskryf word nie.
Dieselfde gebeur dikwels wanneer regeringsamptenare of korporasies hul agendas wil bevorder of 'n sekere status quo wil behou. Chomsky en Herman noem talle verdoemende voorbeelde waaroor die Amerikaanse pers eenvoudig net geswyg het, insluitende Ronald Reagen se onwettige afdanking van 11 000 stakende vlugbeheerders in 1981, Pol Pot se massamoord in Kambodja en die eensydige houding van Amerika teenoor die lot van die Koerde in 1990′s. Op plaaslike bodem kan 'n mens maar net dink aan die vorige regime se hantering van die pers en meer onlangs aan die onregverdige uitbeelding van Mshosolozi (sy foute ten spyt) in die media. (Had ek 'n Rand vir elke keer wat 'n koerant hom maande voor die verkiesing al “Suid-Afrika se volgende president” genoem het, kon ek 'n klein eilandjie bekostig.)
Chomsky-hulle ontwikkel die sogenaamde Propoganda-model en argumenteer dat koerante onder dieselfde ekonomiese druk ly as enige ander produk omdat hulle grootliks deur korporasies besit word. 'n Koerant kan dus nog sy adverteerders nog sy beleggers krities ondersoek, omdat dit dan die risiko van uitsterwing in die gesig sal staar, wat vanselfsprekend beteken dat objektiwiteit by die drein afsypel.
‘n Tweede besef wat (opnuut) tot my deurgedring het terwyl ek weer Leon se kommentaar gelees het, is dat joernaliste selde onfeilbaar is – en dat hul teksversorgers en redakteurs ook nie juis perfek is nie. Dis normaal – mense maak foute. Dit maak hulle natuurlik nie slegter mense (of slegter joernaliste nie) – maar dit maak hulle vir alle praktiese doeleindes onbetroubaar. Twee voorbeelde uit my eie ervaring is ter sake (en hoewel altwee toevallig oor Die Burger gaan, geld dit vir enige ander koerant):
1. Die Universiteit Stellenbosch se studenteraad het deur hul ore gelieg oor die getalle by 2008 se Soen in Die Laan. Die Burger (en die res van die pers) het dit vir soetkoek opgevreet.
2. Toe hub-eienaars se netwerkpunte by dieselfde universiteit afgesny is, het Die Burger 'n berig deurspek met feitefoute daaroor gepubliseer.
In geval #1 het 'n joernalis bloot sy of haar werk gedoen – met mense gepraat, besluit hulle praat die waarheid en toe daaroor geskryf. In geval #2 was die joernalis en elkeen wat die berig onder oë gehad het onkundig oor die betrokke onderwerp. Beide gevalle behels taamlik onskuldige berigte, maar hoe nou gemaak as #1 gehandel het oor 'n aantal vermoorde mense of #2 oor 'n multinasionale korporasie se misdrywe moes gaan? Sou ons dan ooit van beter geweet het?
Sou die joernaliste van beter geweet het?
Dít, dan, is die joernalistieke paai in die skaai wat ek gehuldig het – die idee dat alle nuus altyd objektief, onafhanklik en geverifieer is. Die harde werklikheid is dat dit nie altyd is nie, omdat selfs joernaliste mislei kan word en koerante selde vir enigiets anders as ekonomiese gewin bedryf word. Die Sowetan sal nooit 'n in diepte artikel oor NP Van Wyk Louw publiseer nie, Die Burger sal nooit 'n imbongi vir president Zuma wees nie. Elkeen selekteer maar hulle eie greep van die werklikheid om aan die wêreld voor te hou (hulle het immers teikenmarke om gelukkig te hou) en fouteer soos hulle aangaan.
Dat daar briljante koerante sowel as joenaliste daarbuite is, is nie te betwyfel nie, maar dat hulle by verstek aan die hoë standaarde voldoen wat ek vir hulle ingedink het?
I was sadly mistaken.