Die latente onheil van die geheimsinnige pannekoekmeem

Meme – ideevirusse – is vreemde goed. Behalwe dat daar nie eintlik 'n behoorlike Afrikaanse vertaling vir hulle is nie, is dit eintlik nog maar 'n taamlik spekulatiewe idee (een met baie meriete, moet 'n mens byvoeg). Self begryp ek verskeie meme: Militante ateïsme. Skooltrots. Rickrolling. Ook begryp ek hoekom mense gereeld hieroor by mekaar galbraak. Antjie Krog verwoord dit treffend in Verweerskrif:

God, die Dood, Liefde, Eensaamheid, Die Mens
is Belangrike Temas
menstruasie, geboorte, menopouse, puberteit
die huwelik–nie

Menstruasie en geboorte (trouens, amper alles in Krog se bostaande lys) is kwalik meme, maar die oorkoepelende sentiment is duidelik: wanneer die “groot” idees van die lewe ter sprake kom, wy ons maklik ure daaraan om mekaar te oortuig dat dat ons aan die regte kant van die metafisiese draad wei.

Godsdiens is een so 'n voorbeeld. Mense is daagliks op die oorlogspad oor godslastering op televisie, keasionisme in skole, die aantal Engelse lofliedere wat binne 60 minute gesing mag word en ander soortgelyke kardinale kwessies. Omdat hierdie onderskeie meme soms grens aan heilig vir die mense wat dit huldig, is hulle gewoonlik blitsig om dit teen enige kritiek te verdedig, want om die meem aan te val is heimlik ook om die mens wat die meem geïnternaliseer het aan te val. As bonus is jy gewoonlik ook 'n ketter (dit rym met knetter).

Dis menslik.

Soos Krog wonder ek egter of ons genoeg aandag aan die kleiner meme rondom ons skenk.

Neem die pannekoekmeem. Wanneer dit winter raak, is die kans groot dat 'n mens iemand sal hoor sê dat hy of sy “nou lus raak vir pannekoek”.

Waarop 'n mens wil vra: Hoekom?

“Ag, sommer. Dit laat my aan my kinderdae dink – dis warm en snoesig en gesellig. As dit so reën, dan is dit perfekte weer vir pannekoekbak.”

Maar wat van plaatkoekies? Of jaffels? Hoekom nie plaatkoekies of jaffels nie? Hulle is ook warm en snoesig en gesellig.

“Want dis pannekoekweer, knopkop!”

Tog vreemd, is dit nie? Winter op winter glo ons dat waterdruppels uit die hemele beteken dat ons deeg in 'n pan moet gaarmaak sodat ons kaneelsuiker daaroor kan strooi. Almal van ons. Ons glo dit sonder om 'n oog te knip.

Tog ag ons dit vreemd wanneer iets soos ander mense se geloofsoortuigings of kulturele gewoontes van ons s’n verskil.

Is daar werklik 'n verskil tussen die meem wat George Bush oortuig God moedig hom aan om Iraki’s uitmekaar te skiet en die pannekoekmeem? En wat is gevaarliker – die feit dat die groot meme van die lewe eintlik maar net so arbitrêr soos die kleintjies is, of die feit dat ons dalk meer waarheid aan die kleintjies toedig as wat ons aan onsself wil erken?

(Is jy ook nou honger?)

This entry was posted in Mymering and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>