
Hoe lank is ek? HmmmMMMmmMMmmm??!?!!
Daar is ongeveer twaalf snitte op 'n sogenaamde “normale” album – en dis grotendeels langspeelplate en kasette se skuld. Die lengte van albums is 'n meem wat onder musikante ontstaan het vanweë die fisiese tekortkominge van 'n langspeelplaat wat ongeveer 'n halfuur se musiek aan een kant kon berg. Die wye spektrum frekwensies van musiek vereis noodwendig meer dale en groefies op 'n langspeelplaat as iets soos 'n toespraak en daarom kon een plaat nooit 'n drie uur-lange simfoniekonsert huisves nie. Die beskikbare tegnologie het dit bloot nie toegelaat nie. (‘n Soortgelyke beperking was later ook die lot van kasette, wat onprakties sou raak namate etlike meters bygevoeg word om beskikbare tyd te verleng.)
Die internet het hierdie tekortkominge verwoes. “Albums” is besig om 'n uitgediende konsep te raak, afkomstig van 'n tyd toe musikante noodgedwonge ingeperk was deur die fisiese medium waarop hulle musiek versprei is. Vandag het ons iTunes en Rhythmrecords – webtuistes waar ons 1 of 1239832849324 liedjies op een slag kan koop. (In teorie, natuurlik – ek het eintlik net my sleutelbord herhaaldelik gehamer om met daardie getal op te kom. Ek dink nie iemand kan soveel geld spandeer nie. But you got the point, right?) Beter nog – vandag het ons super wettige Torrentz, waar ons 1 of 94329443084 liedjies op een slag van regoor die wêreld kan aflaai. Die keuse is ons s’n.
Of dit 30 sekondes, 42 minute (kan jy Dream Theatre sê?) of ‘n duisend jaar lank is – dis beskikbaar via die internet.
Dieselfde geld natuurlik vir televisie – meer spesifiek, vir video. YouTube het bewys dat daar net soveel belangstelling in videogrepe van 'n paar sekondes is as wat daar in standaard 22- of 44-minuut episodes is. Jeff Jarvis en Seth Godin het ook lankal aangetoon hoe dit belangriker is om jouself te bemoei met wat jou kliënte wil hê eerder as om hulle te oortuig dat jou advertensieveldtog in die kol is.
So.
Hoe lank reken julle moet 'n episode van “Van waar, Gehasi?” wees? Ek is tans oortuig dat dit nie langer as 'n minuut en 'n half moet wees nie, maar dit sal interessant wees om te hoor wat julle dink. Hoe lank is julle bereid om na 'n bite sized videogreep met nuttige, prikkelende inligting (ter algehele emendasie van jou lewe™ en so aan) te kyk voor daarmee verveeld sal raak?
(Bonuspunte as jy kan raai waaroor dit gaan.)