Die Pink Jacaranda Festival, 'n gay fees wat die naweek by die Voortrekkermonument gehou is, het die Voortrekker Jeugbeweging lelik omgekrap. Hul opinie: die bastion van Afrikanernasionalisme is geen plek vir 'n pienk aangeleentheid nie.
Miskien moes hulle dit omgekeer het.
Miskien moes hulle eerder skaam gemompel het: “die pienk aangeleentheid is geen plek vir oudmodiese Afrikanernasionalisme nie” en skaam-skaam weggestrompel het na die Voortrekkermonument om dit tydelik te gaan skuif sodat die fees kan plaasvind.
In 1981 (toe die meeste lede van die Voortrekker Jeugbeweging doeke gedra het of wulpse drome was) het FA van Jaarsveld oor nasionalistiese indoktrinasie geskryf:
Die jeug is nie opgevoed om selfstandig en krities te besin nie; buitelandse en binnelandse opposisiekritiek het soos water van 'n eend se rug gerol. Van die Afrikaner is 'n stereotiepe model gemaak, 'n soort “standaard”-Afrikaner waaraan almal moes voldoen, teen die prys van uitwerping uit die kudde, sou daar afwykings wees.
(My klem.)
Wanneer die Jeugbeweging daarop aandring dat Gert Opperman, die hoof uitvoerende beampte van die monument, homoseksualiteit in die publiek moet slegsê, is hulle besig om presies dit te doen wat Van Jaarsveld beskryf: hulle dwing iemand in 'n fantasma van 'n standaard-Afrikaner met die dreiging van uitwerping uit die kudde, sou daar nie gekonformeer word nie.
Daarom hoop ek van harte Opperman kan eerder trots sê: “Die Pienk Fees was 'n sukses. Die Voortrekkermonument en die Afrikaners wat dit verteenwoordig, is lief vir alle mense, maak nie saak wat hulle waar indruk nie. Fin.”