Ek koester gewoonlik té hoë verwagtinge van politici, blyk dit. Ek wil hulle meet aan dieselfde rasionele en morele standaarde waaraan ons mekaar elke dag meet. Mense vertel my gewoonlik dan dat dit nou maar een maal is hoe politici is: dat dit nie help 'n mens verwag beter van die skuim van die aarde nie. Dat dit die stand van sake is. Die standaard. Dat, al dra al hierdie ape goue ringe, hulle steeds two-timing mawwerfakkieng bastards bly. En dat ons dit moet aanvaar.
Dis nou, natuurlik, as 'n mens Ambrose Pierce glo, wat reken politiek is “A strife of interests masquerading as a contest of principles. The conduct of public affairs for private advantage.”
Oorweeg egter die volgende: die woord “politiek” is afkomstig van die Griekse woord polis, wat letterlik “stad” of “staat” beteken. Aan hierdie woord hang 'n ryk tradisie van gerekende Griekse denkers – intelligentsia soos Aeschylus, Sophocles en Zeno van Elea. Dit herinner ons dat politiek heimlik te doen het met die doeltreffende bestuur van die staat. Bowenal roep dit die herinnering aan Plato en sy nosie van “filosoof-konings” op. Voordat die filosowe in beheer van die polis kom, het Plato gereken, “cities will have no rest from evils”.
Voordat diegene wat rasioneel en nugter oor die werklikheid nadink aan die stuur van sake staan, sal rasionaliteit en soberheid nie in die politieke sfeer seëvier nie.
Dis tog nie moeilik om te begryp nie. As ons 'n klomp selfsugtige idiote in beheer van 'n ingewikkelde demokrasie soos Suid-Afrika plaas, gaan ons niks meer as “the conduct of public affairs for private advantage” sien nie. Dan gaan ons Shaik post-spinhuis in sy BMW sien rondcruise of De Lille hoor sanik oor sensorskap vir die internet. As ons ons standaarde op alle terreine van die lewe hoog hou, maar dit vir politici die grond in skiet en gedweë reken dat dit maar die norm is, gaan ons aanhoudend teleurgestel word.
Snert, seg ek.
Daar is geen rede hoekom ons in skisofrenie hoef te leef nie. Daar is geen nugtere rede hoekom ons gedweë teenoor mekaar moet sê: “politici is drolle, en dis nou maar dit” nie. Daar is geen werklike voordeel daarin om te dink dat dit die beste is wat ons hoef te kry nie – dat dieselfde standaarde waaraan ons mekaar meet nie vir politici gebruik kan word nie. As jy middelmatigheid deemoedig aanvaar, het jy nie 'n reg om oor enigiets in die publieke sfeer te kla nie.
As dit nie goed genoeg is nie, is dit nie goed genoeg nie.