Die probleem met Zuma se seksuele avonture

Die probleem met President Zuma se seksuele avonture is nie die seks nie.

‘n Argument teen die president wat 'n morele ondertoon het, is vir alle praktiese doeleindes 'n nuttelose argument. Om aan te voer dat hy 'n bepaalde seksuele moraliteit uitleef of verteenwoordig, dat daardie moraliteit nie strook met hoe 'n president veronderstel is om op te tree nie en dat Zuma daarom nie 'n goeie leier vir Suid-Afrika is nie, is soortgelyk as om aan te voer dat homoseksualiteit afskuwelik is, omdat dit iewers in die Bybel staan.

Nie almal gaan die argument koop nie, want nie almal huldig dieselfde opinie oor seksualiteit en die uitleef daarvan nie. Om 'n morele kaart te speel wat jou eie morele raamwerk weerspieël, is eintlik maar net om te sê: “ek glo DIT oor die wêreld, en as jy nie met my saamstem nie, is jy verkeerd”. Dis soos om gedeelte uit die Koran aan te haal in 'n argument oor die bestaan van God in 'n kamer vol ateïste, Moslems, Christene en agnostici.

Vanselfsprekend gaan die argument nie ewe oortuigend wees vir almal in die kamer nie.

Die probleem met Zuma se seksuele avonture is nie die seks nie. Dis iets veel eenvoudiger. Dit dui op 'n veel groter probleem: 'n onvermoë om onverdeelde aandag aan Suid-Afrika se knaende probleme te skenk. Om (skynbaar) halsoorkop agter alles met 'n rok aan te hardloop, is nie noodwendig immoreel nie, maar wel tekenend van 'n onvermoë om halsoorkop agter alles wat nié 'n rok dra nie aan te hardloop – dinge soos voedselsekuriteit, politieke stabiliteit, ekonomiese groei en herstel en voortgaande versoening.

Zuma se seksuele avonture dui op iemand met 'n kort aandagspan en deurmekaar prioriteite. Dít – eerder as sy bepaalde bedgewoontes, wat selfs iemand soos Jonathan Jansen laat galbraak het – is wat veronderstel is om almal te pla.

This entry was posted in Politiek and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>