Die suurgeit van onze dames met notaboekies

http://gormendizer.co.za/wp-admin/post.php?post=8844&action=edit&message=10#

Ek het 'n stuiwer in die armbeurs te gooi rakende die veelbesproke mediatribunaal en wil dit graag aan die hand van 'n storie uit my universiteitsjare doen.

Drie jaar gelede, op 9 Augustus 2007, het Eendrag (‘n manskoshuis by die Universiteit Stellenbosch) se boonste verdieping afgebrand. Ek was woonagtig in Helshoogte (nog 'n manskoshuis, aangrensend aan Eendrag) en het die rare geleentheid gehad om saam met my mede-koshuisinwoners die tragedie op ons eie manier te beleef.

Terwyl Eendrag se inwoners waarskynlik vervaard rondgeskarrel het om uit die brandende gebou te kom, het ons verward die slaap uit ons oë gevee en magteloos na die vlamme voor (en onder – helshoogte is 11 verdiepings hoog) ons gestaar. Stil-stil het ons mekaar wakkergemaak, in die koshuis se gange rondgestrompel en die nuus versprei dat die gebou langsaan besig is om af te brand. Hier en daar het mense hul karre uit die pad getrek; 'n paar mense het nooddienste gebel. Die meeste van ons het egter bloot na die verwoesting gestaar en nie regtig geweet wat om daaromtrent te doen nie.

Eendrag is tradisioneel ons aartsvyande (op die studentikose manier wat een skool 'n ander se “aartsvyand” by interskole is), maar nie een van ons het gelag of gespot toe die brand uitgebreek het nie. Dié wat wel het nadat hulle wakkergemaak is met die nuus, het dadelik hul lag gesluk toe hulle vir die eerste keer deur hul kamervensters gekyk het.

Ek onthou hoe die hitte van die brand so erg was dat ek dit deur my eie, toegetrekte kamervenster kon voel. Ek onthou hoe my hart 'n paar slae oorgeslaan het toe die brandende dak neergestort het op die gedeelte van die gebou waar 'n baie goeie vriend van my se kamer was; hoe ek angstig na hom gaan soek het op Eendrag se grasperk en hom in 'n sweetpakbroek met slegs twee kitare in sy hande gekry het. Ek onthou die verslae Eendragters wat in pajamas toegekyk het hoe alles wat hulle besit in 'n dik, borrelende rook verdwyn.

Daar’s baie indrukke van daai oggend in my harsings vasgebrand. Veral een bly my by.

Toe 'n moë klomp Eendragters post die brand in Helshoogte se eetsaal met 'n taakspan van die universiteit vergader het, was daar reeds 'n joernalis of twee op die toneel. Dié het oral saamgepiekel asof dit hul godgegewe reg was. Een van hulle was 'n dame met 'n notaboekie. Die taakspan het impromptu-reëlings aan die Eendragters deurgegee, waarvan een was dat diegene met karre wat naby die koshuis geparkeer is dit moet wegtrek om soveel moontlik ouers toe te laat om die koshuis te help ontruim.

Kort na die opdrag gegee is, kom onze dame met die notaboekie orent, laat haar hand met die pen soos 'n missiel deur die lug klief en basuin beterweterig: “maar wat nou van die studente wie se sleutels verbrand het?! Huh?! WAT MOET HULLE DOEN!?”

Van al die niksseggende vrae wat 'n mens kon vra, het sy daardie een gekies.

Vanselfsprekend kon diegene wie se sleutels in die brand verlore geraak het nie hul voertuie wegskuif nie. Die opdrag was 'n skoen wat aangetrek moes word indien dit pas. Aangesien twee derdes van die koshuis boonop nié tot puin gereduseer is nie, was die kanse groot dat 'n hele klompie sleutels herwin kon word.

Onze dame met die notaboekie het egter 'n Groot Kwessie hierin opgemerk – en onze dame met die notaboekie het soos 'n parmantige Filosofiese I-student die ongelooflike logiese gapings in die taakspan se werkswyse eers gehallusineer en toe manhaftig bespring soos 'n hondsdol tier 'n sieklike mier. Vir onze dame met die notaboekie was die situasie nie vol molshope nie, maar vol berge. Berge waarop daar windmeulens gebou is.

Dis asof sy vas oortuig was die taakspan is korrup en dis haar plig om hulle oor die kole te haal.

‘n Mens sou seker kon aanvoer dat haar oorywerigheid 'n fratsgeval was – dat alle joernaliste nie só is nie. Ek is seker baie joernaliste wat hierdie stuk lees sal self so sê. As 'n mens egter 'n bietjie dieper krap, kom jy gou agter dis nie so 'n eenvoudige geval nie.

Die probleem met onze dame met die notaboekie is dat sy en haar kollegas dikwels minder as hul topbestuur se persoonlike assistente verdien. Joernaliste kry squat vir die kundigheid wat hulle veronderstel is om te hê en die aantal ure wat hulle gereeld moet werk. Oortydbetaling in 'n nuuskantoor is 'n mite. Hulle word soms na jare se diens sonder enige fanfare afgedank, behoort dikwels nie aan unies nie en aanvaar knorrig wat die bestuur vir hulle voorskryf. Soms word hulle selfs deur hul eie lesers hanteer soos die skuim van die aarde.

In een sin: onze dames (en onze jonge here) se moere is dikwels sommer lekker gestrip vir die wêreld.

Wat kry jy as jy 'n klomp onderbetaalde, oorwerkte, ongewaardeerde mense konstant op die spoor van oorbetaalde, lakse, korrupte politici en staatsamptenare sit? Hulle ontwikkel in onze dame met die notaboekie wat molshope van berge maak, wat in elke gebeurtenis 'n Kolossale Probleem sien wat dringend oopgevlek moet word.

Ek weet persvryheid is belangrik. Almal weet dit. Net soos Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch is die vraagstuk oor die voorgestelde mediatribunaal (myns insiens 'n blink idee) en die Wet op Beskerming van Inligting (myns insiens 'n waansinnige idee) nie óf dit beskerm moet word nie, maar hoé dit beskerm moet word. Wat my bly maak van redakteurs en andere se uitlatings die afgelope tyd is dat dit vryheid van spraak hand en tand verdedig. Dis goed – niemand stry immers tog hieroor nie. Die ideale joernaliste wat laasgenoemde kampvegters egter in hul koppe het wanneer hulle oor die saak redeneer, is 'n onjuiste idee.

Sulke joernaliste is skaars.

As koerante hul joernaliste vir 'n slag behoorlik sal betaal (want vet weet, hulle verdien dit), as die maatskappye wat daardie koerante besit hul werknemers vir 'n slag met respek sal hanteer en daar meer opsies is om verder te klim op die joernalistieke leer as die naarstige vasklou aan poste wat vandag meer soos skaars hulpbronne lyk, kan ons weer praat oor persvryheid.

Tot dan, reken ek, sal onze dames (en onze jonge here) met onze notaboekies altyd daar wees, sal 'n atmosfeer in stand gehou word waarbinne stories dikwels uit proporsie geblaas word en sal selfs van die idiote in die regering dit nodig ag om te sê: “genoeg is genoeg. Bring iets op die been wat die windmeulbestormers tog net tot bedaring kan bring”.

Hierdie inskrywing is natuurlik ook 'n skoen wat aangetrek moet word as dit pas. Nie alle joernaliste is soos onze dame met die notaboekie nie.

This entry was posted in Media and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>