Dood van die griffelaars (gedagtes oor die amalgamasie van Afrikaanse boekeblaaie)

Hierdie essay het begin as informele kommentaar aan 'n vriendin op Facebook. Dis uit die vuis en losserig, maar rofweg hoe ek oor die huidige storm in 'n teekoppie oor Afrikaanse boekeblaaie dink. Sien in hierdie verband gerus die rubriek wat ek oor die onderwerp vir Nuus24 geskryf het wat intussen by LitNet gaan draai het.

Way back in the day – toe die AWS nog 'n spilse gedagte was en Afrikaanse mans eerder honderesies as rugby gekyk het - het die Suid-Afrikaanse regering en verskeie maatskappye hard daaraan gewerk om Afrikaners “op te hef”. Dit was kort na die Anglo-Boereoorlog en Afrikaners se moraal (en bankbalanse) was verpletter.

Deel van hierdie opheffing was om ook Afrikaans op te hef. “Ernstige literatuur” het meestal nog by die taal ontbreek. Die prulrympies wat in publikasies soos Ons Klyntji verskyn het, moes dringend aangevul word, want – soos DF Malan dit so kleurvol in 1908 gestel het:

Verhef di Afrikaansche taal tot skrijftaal, maak haar di draagster van onze kultuur, en u verhef daarmee ook di volk, wat haar praat. Hou egter di volkstaal op di voet van 'n halfbeskaafde provinsiaal dialekt, en u hou daarmee ook di volk op die peil van 'n halfbeskaafde, ongeletterde nasie.

Die skep van toekennings soos die Eugene Marais- en Hertzog-pryse, die ontstaan van die ATKV, die filosofie en hogere letterkunde wat destyds in Huisgenoot bespreek is en dan natuurlik ook die ruimte wat in koerante aan diskoerse oor Afrikaanse boeke afgestaan is, is almal produkte van hierdie versugting. Stadig maar seker is Afrikaans gestandardiseer, koerante en tydskrifte op die been gebring (De Burger in 1915, De Huisgenoot kort daarna in 1916) en Afrikaanse departemente by universiteite gestig. “Infrastruktuur” is as ‘t ware geskep vir Afrikaans.

In daardie jare was die politieke klimaat natuurlik perfek vir so 'n bloeityd. Vandag is die teendeel waar. Dis tans nie vreeslik polities korrek om Afrikaans (en veral Afrikaners) op te hef nie. Dis meestal ook nie nodig nie, aangesien Afrikaners in die vorige eeu grootliks suksesvol opgehef is. ’n Mens sou daarom kon redeneer dat dit onredelik is om van Naspers te verwag om steeds die rol te speel wat hulle dekades gelede gespeel het. Die infrastruktuur wat in die vorige eeu mildelik gebruik is, kan nie meer ingespan word vir dieselfde doeleindes nie. (Dit hoort ook nie so nie. Naspers is 'n maatskappy wat wins moet maak, nie 'n liefdadigheidsorganisasie wat Afrikaans moet oppas nie.)

Daar was nie altyd 'n geil oorvloed boekeblaaie nie. Om aan te dring dat hulle bly voortbestaan op dieselfde manier as wat hulle tydens die NP se sogenaamde hegemoniese projek bestaan het, is myns insiens nie heeltemal sinvol nie.

Ek vermoed Afrikaanse skrywers is oor jare gekondisioneer om die Afrikaanse “infrastruktuur” in Naspers se besit te beskou as die enigste kanale waardeur inligting na die publiek gestoot kan word. In hulle guns: dit was vir jare wel die geval. Intussen het daar egter 'n wêreldwye ommeswaai plaasgevind in die publikasie-wêreld. Die internet het gekom en redaksionele hekwagters is gerelativeer. Enigiemand kan nou publiseer. Boonop is dit nie net redaksionele beperkings wat ongedaan gemaak is nie. Saam met die tegnologiese veranderinge het mense se gedrag ook verander.

Dis waansinig om te dink dat 'n wesenlike aantal mense nog boekeblaaie lees – en dat daardie boekeblaaie hul sentiment jeens 'n bepaalde publikasie sal beïnloed. Daarvoor het die wêreld nou maar eenmaal te veel verander. As iemand vandag iets wil weet oor 'n boek (of enigiets anders onder die son, mind you), wend hulle hulself na Google of Amazon. Toegegee, daar is dalk nog 'n paar mense wat heel eerste in 'n boekeblad gaan snuffel ten einde 'n resensent se sentiment oor 'n nuwe boek te peil, maar hulle is in die minderheid. Dis sinloos om van 'n mediamaatskappy te verwag om hoofsaaklik eers vir hierdie mense se behoeftes voorsiening te maak.

Webtuistes soos Amazon.com en Kalahari.net bied vir jare al aan mense die ruimte om hul eie resensies oor boeke neer te pen. Enigiemand kan hul mening oor 'n boek lug – iets wat vinniger en veel gereelder as die diskoerse van 'n uitgesoekte akademiese elite in boekeblaaie gebeur. (En daarom, sou 'n mens kon argumenteer, iets wat vir die publiek veel meer relevant is.)

Kritiek op hierdie bydraes is natuurlik dat dit dikwels ligsinnig en oningelig en daarom nie soveel soos “regte” resensies deur “regte, egte slim mense” beteken nie. (Letterkundiges kan soms tog so 'n hovaardige spul wees…)

Wat dan van properse akademiese diskoerse?

Wat daarvan, ja?

Niks keer enigiemand om ingewikkelde akademiese diskoerse oor Afrikaanse literatuur oor en weer rond te slinger op die digitale platform van hul keuse nie. In watter eeu, wil 'n mens amper vra, leef diegene wat nog dink dat sodanige gesprekke (in al hul veelvoudige glorie) slegs van 'n enkele maatskappy se handjievol publikasies kan afhang? Die internet bied aan hulle eindelose nuwe moontlikhede om die gesprek rondom letterkunde te verryk, maar al wat hulle wil hê, is drie gedrukte boekeblaaie.

Ek meen, vader – die inligtingsrevolusie het tog lankal reeds plaasgevind? Hier sit ons as Afrikaanssprekendes aan die onderkant van Afrika met die vermoë om toegang te verkry tot nuwe infrastruktuur wat diskoerse van enige aard (van bar tot akademies) vinniger, veel meer dinamies en heeltemal onaangeraak deur die sensorskap van 'n redaksionele pen moontlik maak en wat doen ons?

Ons sanik oor die agteruitgang van die ou sisteem! En nie met behulp van hierdie einste ou sisteem nie – nee, ons sanik bekommerd daaroor op die internet!

Dit laat my dink aan die scribes van weerga wat honderde jare gelede kapsie gemaak het teen die drukpers. Dié toestel het die hele rede vir hul bestaan – die moeisame duplisering van tekste met die hand – eensklaps ongedaan gemaak. Die drukpers was vinniger, goedkoper en het publisering vir veel meer mense as net kerklikes en adelikes moontlik gemaak.

Een van die griffelende monnike (‘n ene Johannes Trithemius van Sponheim) het toe uiteindelik 'n traktaat ter verdediging van sy medegriffelaars gepubliseer. “De Laude Scriptorum” het dit geheet – letterlik: “In praise of the scribes”. Dit het die deugde daarvan om boeke met die hand te kopiëer besing en by mense gepleit om tog nie hierdie edele nering vir Gutenberg se lomp en onelegante drukproses te verruil nie.

Ten einde sy traktaat te versprei, het hy dit laat druk.

Sy boodskap het die griffelaars geprys, terwyl die vorm daarvan hulle ironies genoeg verdoem het.

Klink dit bekend?

Dis hoog tyd vir letterkundiges om te besef dat die voorreg van publikasie en die prerogatief om dit te doen lankal nie meer net by koerante, tydskrifte en boekhuise hoort nie. Vir so lank as wat ons liewe geleerde vriende nie tot hierdie insig kan kom nie, sal Media24 se besluit om Afrikaanse boekeblaaie te amalgameer vir hulle 'n aardskudde katastrofe bly.

Intussen, vermoed ek, sal die res van ons bloot aangaan met ons lewens.

This entry was posted in Essays and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>