Oor Malema en Verwoerd, Heraclitus en Buddha

Verwoerd tjek Orania uit

Die bogger is darem nog in Orania

Hoe moet 'n mens oor Julius Malema se “Skiet die boer” dink? Dalk op dieselfde manier as wat 'n mens oor die DA se verwydering van die Verwoerd-standbeeld in Midvaal moet dink.

In sowel die lied as die standbeeld se geval is daar uiteenlopende menings oor die afskaffing daarvan. Die ANC reken die lied is deel van Suid-Afrika se struggle-geskiedenis en moet daarom behoue bly. AfriForum, daarenteë, reken dit skep 'n atmosfeer waarin haat en verdeeldheid gedy. Die teenoorgestelde is waar van die standbeeld. Baie Suid-Afrikaners sal aanvoer dat dit juis verdeeldheid aanblaas en wonde van die verlede kan oopkrap. Die Vryheidsfront Plus reken egter die ontfutseling daarvan het vyande vir die DA gemaak en daar is waarskynlik baie mense wat nie heeltemal so vyandiggesind teenoor Verwoerd is soos die res van Suid-Afrika nie.

Afhangende van waar jy polities staan, sou jy seker die dreunsangers of die standbeeldliefhebbers kon oordeel. Oortuigings tersyde is die vraagstuk waarmee Suid-Afrikaners in hierdie geval gekonfronteer word een van geskiedenisinterpretasie. Wat maak ons met die sleg in ons verlede wanneer dit nie altyd vir almal ewe sleg is nie?

Die woorde van Comte-Sponville (uit The Little Book of Atheist Spirituality) kan dalk van waarde in hierdie verband wees:

Who would want to go back to the days before Heraclitus or Confucius, Buddha or Lao-tzu, Zoroaster or Isaiah? Should we be content with repeating what they said? Of course not. We should, however, do everything in our power to understand it, bring it up to date, and pass it on! If we do not, there can be no hope of progress.

…only by transmitting the past to our children can we enable them to invent their future; only by being culturally conservative can we be politically progressive…Let us not make a clean slate of the past!

(27)

Comte-Sponville skryf natuurlik vanuit 'n ander konteks. As ateïs probeer hy uitpluis of 'n mens jouself steeds met godsdienstige geskrifte moet bemoei as jy hulle nie meer letterlik glo nie. Hy wonder of uitgediende idees nog 'n doel kan dien – of 'n mens dit (en die simbole wat dit verteenwoordig) nie dalk eerder van kant moet maak as dit jou nie meer pas nie. Die antwoord wat hy uiteindelik bereik, is dat dit niemand sal baat om die verlede se tradisies en simbole sonder meer te laat verdwyn nie.

Hy skryf spesifiek oor die positiewe bydraes wat figure soos Heraclitus en Boeddha tot die wêreld gemaak het, maar ek vermoed sy woorde sou spesifiek ook vir die slegtes kon geld. Party se helde is immers ander se skurke.  ”Skiet die boer” val dalk nie so goed op die oor vir party mense nie, maar vir almal wat dit sing is dit natuurlik net mooi die teenoorgestelde geval. Dieselfde geld vir Verwoerd en mense se idees oor hom.

Dis jammer dat die Midvaal-standbeeld verwyder is. Nie omdat ek op die een of ander manier dink apartheid was goed nie, maar omdat dit gevaarlik is om die verlede geheimsinnig en onseremoniëel te laat verdwyn omdat jy nie daarvan hou nie. Net so sal dit op 'n manier jammer wees as Afriforum hul hofsaak wen. Nie omdat plaasmoorde of die aanhitsing om enigiemand vol lood te pomp goed is nie, maar omdat mense sonder 'n geheue eintlik maar niks meer as diere is nie.

Die beter vraag om oor Ayasab’ amagwala en Verwoerd se torso te vra, is nie of dit van kant gemaak moet word nie, maar eerder hoe ons dit as deel van ons verlede aan ons kinders gaan oordra sonder om die ou idees daaragter klakkeloos te herhaal.

Wie’s in elk geval so laf om te dink 'n hofbevel of 'n stuk koper agter in 'n vragmotor sal 'n idee vermoor?

This entry was posted in Politiek and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>