Hierdie bisarre (dog amusante) brief in my alma mater se studentekoerant (Manlike student bevredig homself in die biblioteek) laat my dink aan 'n soortgelyke insident wat ek tydens my eie studentejare beleef het.
Dit was die aand voor ek nóg 'n opstel moes inhandig vir die honneursgraad waaraan ek besig was om te werk. Ek is nie seker wat die tema was nie (ek vermoed dit was iets oor die lirieke van Fokofpolisiekar), maar ek kan onthou dat ek besonder baie daarin belanggestel het en myself wou skop oor ek so laat daarmee begin het.
Gewapen met koffie en 'n spul kaasburgers van die Macdonalds oorkant die pad het ek myself gestaal om erudiete akademiaans tot in die vroeë oggendure neer te pen. Dit was 'n raserige aand in die koshuis, so hierdie oefening het plaasgevind het in HUMARGA - een van die universiteit se rekenaarplase waar studente 24/7 ongestoord kan sit en werk.
Die aand het goed begin en vinnig beter geraak. Elke teug koffie het my slimmer gemaak; elke kaasburger het die studentikose wyshede kragdadiger uit my harsings laat peul. Ek het ontleed. Ek het krities bespreek. Ek het gedekonstrueer. Ek het groot woorde gebruik en intertekstuele dialoë met filosofiese reuse aangeknoop en alles was SPARTA.
Namate die hopie kaasburgeromhulsels langs my groter geraak het, het die studente wat saam met my in die rekenaarlokaal gesit het minder geraak. Stuk vir stuk het hulle uitgedun, tot daar later (net na 05:00 die oggend, as ek reg onthou) net een ander kêrel oor was.
HUMARGA is groot. Dit bestaan uit twee vleuels vol identiese rekenaars (ongeveer 240 van hulle) wat in rye op lessenaars staan. Ek het voor in die linkerkantste vleuel, naaste aan die ingang, gesit – die vent agter my het heel agter in die regterkantste vleuel gesit.
Op 'n kol het ek gevoel dis tyd om my bene 'n bietjie te rek. Ek het opgestaan, properlies gestrek en my oë nonchalant oor die rye rekenaars laat dartel – toe my blik skielik op die kêrel doer agter my geval het.
Met 'n bloedrooi gesig was hy verwoed besig om hand aan eie as te slaan.
I was like:
Toe hy opmerk dat hy opgemerk is, het hy abrup, met 'n verdwaasde uitdrukking op sy gesig, tot stilstand gekom. Ons het ietwat ongemaklik vir 'n paar sekondes na mekaar gestaar, tot ek besluit het om maar eerder my opstelletjie na een van die laserdrukkers teen die muur te stuur en myself uit die voete te maak.
![confused-full11[1]](http://gormendizer.co.za/wp-content/uploads/2011/09/confused-full111-254x300.jpg)